Nuus 12:00
BULLETIN 14 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fadiel Adams bevraagteken sy inhegtenisneming en betwis die Parlement se skootrekenaar-bewerings
# ‘n Party sê 14 jaar ná Marikana sukkel werkers steeds met armoede en lae lone
# En rugby: Die All Blacks se afrigter sê spelers se vertoning teen die Bulle kan die keuse vir die toets teen die Bokke bepaal
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, verstaan nie waarom hy aangekeer is en nie bloot versoek is om ‘n waarskuwingsverklaring af te lê nie. Hy staan in die Landdroshof in Pinetown, KwaZulu-Natal, tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling. Die saak is tot 11 September uitgestel, terwyl hy volgende week voor die Madlanga-kommissie sal getuig. Adams beskuldig die Parlement van betrokkenheid by geskille oor sy parlementêre skootrekenaar:
# Die Workers and Socialist Party het sy oproep herhaal vir behoorlike lone en geregtigheid vir die slagoffers van die Marikana-slagting in Noordwes. Die party sê mynwerkers word steeds onderwerp aan lae lone, werkloosheid en swak lewensomstandighede, terwyl niemand aanspreeklik gehou is vir die moorde van 2012 nie. Woordvoerder Zaki Mamdoo vra ‘n minimumloon van 15-duisend-rand, groter werkskepping en die nasionalisering van myne:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens vier mense is dood nadat rekord-reënval in Japan se Chiba-streek ongekende oorstromings veroorsaak het. Vyf mense is beseer en een word vermis terwyl meer as 400-duisend mense onmiddellik moes ontruim. Meer as 45-duisend wonings is sonder elektrisiteit. Japan se meteorologiese agentskap het die hoogste vlak vyf-waarskuwing uitgereik vir swaar reën en modderstortings. Chiba se goewerneur, Kumagai Toshihito, sê hulle sal voortgaan om lewens te red, skade te beperk en maatreëls vir vinnige herstel te vind.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê spelers kan steeds die groep haal vir die eerste toets teen die Springbokke, afhangende van hulle vertoning teen die Bulle. Hy het ‘n sterk groep aangewys vir môre se kragmeting op Loftus, maar sê dit verskil aansienlik van die een vir volgende Saterdag se toets op Ellispark. Rennie erken hy het ‘n dilemma met posisies soos skrumskakel, slot, losvoorspeler en vleuel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-645-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Benoemings kan nou ingedien word vir die 2027 Standard Bank Jong Kunstenaartoekennings, wat erkenning gee aan talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars onder die ouderdom van 35 jaar. Die toekennings dek ‘n reeks skeppende velde, insluitend musiek, teater, dans, visuele kunste, poësie en rolprentkuns. Wenners ontvang finansiële ondersteuning, kry groter blootstelling en ‘n geleentheid om nuwe werk aan te bied op die Nasionale Kunstefees in Makhanda in die Oos-Kaap. Bonga Sebesho van die bank sê benoemings sluit die einde van hierdie maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….