Nuus 11:00
BULLETIN 14 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela sê NSFAS se ontbrekende-middel-leningskema moet hersien word
# Die ANC se parlementêre koukus sê die ampsklagkomitee moet die hofprosesse respekteer
# En rugby: Die All Black-afrigter sê spelers se prestasie teen die Bulle kan die keuse vir die toets teen die Bokke bepaal
# Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se leningskema vir die sogenaamde ontbrekende middel moet dringend hersien word. Dit sluit in dat die kwalifiserings- en aansoekproses vergemaklik word. Meer as 53-duisend studente het vanjaar aansoek gedoen, maar slegs drie-duisend-102 het gekwalifiseer. Manamela verwelkom die toename in aansoeke, maar sê die omskakeling na afgehandelde en uitbetaalde lenings is te min en te stadig:
# Die ANC se parlementêre koukus sê die Konstitusionele Hof-beslissing oor president Cyril Ramaphosa se interdik bevestig dat geen parlementêre meerderheid, opposisieparty of politieke veldtog bo die wet verhewe is nie. Die hof het politieke partye en die ampsklagkomitee toestemming geweier om te appelleer teen ‘n tussentydse interdik wat openbare verhore in die Phala Phala-saak verbied. ANC-woordvoerder Cameron Dugmore sê die regs-hersieningsproses moet sy loop neem sonder politieke inmenging of vals dringendheid:
# Stad Kaapstad sê die voorgestelde verkoop van munisipale grond in Mitchells Plain aan Christel House South Africa vir die uitbreiding van sy skool word deur ‘n deursigtige openbare proses behartig. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die voorstel is oop vir openbare kommentaar, met inwoners wat alternatiewe voorstelle vir die grond kan indien. Hy sê die voorgestelde uitbreiding kan toegang tot gehalte-onderwys verbeter, werksgeleenthede skep en kwesbare gemeenskappe bevoordeel.
Nuus uit die buiteland:
# Minstens vier mense is dood nadat rekord-reënval in Japan se Chiba-streek ongekende oorstromings veroorsaak het. Vyf mense is beseer en een word vermis terwyl meer as 400-duisend mense onmiddellik moes ontruim. Meer as 45-duisend wonings is sonder elektrisiteit. Japan se meteorologiese agentskap het die hoogste vlak vyf-waarskuwing uitgereik vir swaar reën en modderstortings. Chiba se goewerneur, Kumagai Toshihito, sê hulle sal voortgaan om lewens te red, skade te beperk en maatreëls vir vinnige herstel te vind.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê spelers kan steeds die groep haal vir die eerste toets teen die Springbokke, afhangende van hulle vertoning teen die Bulle. Hy het ʼn sterk groep aangewys vir môre se kragmeting op Loftus, maar sê dit verskil aansienlik van die een vir volgende Saterdag se toets op Ellispark. Rennie erken hy het ‘n dilemma met posisies soos skrumskakel, slot, losvoorspeler en vleuel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-897-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….