Nuus 09:00
BULLETIN 14 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC koukus doen ‘n beroep op die Ampsklagkomitee om die howe te respekteer
# Minister Creecy sê die lugvaartsektor kort geslagsgelykheid
# En die VF Plus sê Ekurhuleni se invorderingskoers is ‘n dekmantel
# Die ANC se parlementêre koukus sê die Konstitusionele Hof se beslissing oor appèlle teen president Cyril Ramaphosa se interdik versterk die beginsel dat geen parlementêre meerderheid, opposisieparty of politieke veldtog bo die wet verhewe is nie. Die hof het Woensdag ‘n aansoek deur politieke partye en die parlementêre Ampsklagkomitee om teen ʼn tussentydse interdik te appelleer wat openbare verhore in die Phala Phala-saak verbied, van die hand gewys. Cameron Dugmore van die ANC sê die regs-hersieningsproses moet sy verloop neem sonder politieke inmengery of vals dringendheid:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê Suid-Afrika moet doelgerig seker maak vroue is deel van ontwikkeling, opleidingsgeleenthede, werwingstrategieë en leierskapsmoontlikhede in die lugvaartsektor. Die land het meer as 33-duisend-500 gelisensieerde beroepspersone in lugvaart, en byna ses-duisend-800 is vroue. Creecy sê haar departement het in die 2025/2026-boekjaar 317 van 460 kontrakte ter waarde van 312,3-miljoen-rand aan ondernemings in vroue se besit toegeken. Creecy sê terwyl lugvaart in Afrika uitbrei, moet hulle seker maak die indiensnemings- en ekonomiese geleenthede wat deur groei geskep word, moet vir vroue toeganklik wees.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Stad Ekurhuleni se jaarlikse skuldinvorderingskoers van 90,38-persent lyk goed op papier, maar dis in werklikheid ʼn rookskerm wat die ware stand van sake verbloem. Die syfer word aangehaal in die jongste verslag wat aan die oorsigkomitee vir finansies voorgelê is, maar die party beweer daar is enorme teenstrydighede. Denise Janse van Rensburg van die VF Plus sê hulle het die metro gewaarsku om nie net op ʼn geraamde 90-persent invorderingskoers staat te maak nie, en versoek dat konserwatiewe scenario’s oorweeg word:
# Die kantoor van die Verenigde Nasies se Hoëkommissaris vir Menseregte het Israel se militêre operasies in die besette Wesoewer veroordeel en gesê die aanvalle op Palestyne hier is ‘n nuwe laagtepunt. Israelse soldate het sowat 20 Palestynse gesinne na bewering om veiligheidsredes uit Qusra verwyder. Ajith Sunghay van die VN sê Palestyne wat in Qusra woon is sedert November 2025, toe Israelse setlaars ‘n buitepos daar naby gestig het, toenemend die teiken van gereelde aanvalle:
# Sokker: Ierland het ook sy steun vir nog ‘n termyn vir FIFA-president Gianni Infantino onttrek. Die land se beheerliggaam het ook sy steun bevestig aan Europese, Amerikaanse en Asiatiese direksies wat Infantino daarvan beskuldig dat hy vertroue in hom verbreek het deur FIFA-lede te mislei. Dit volg na sy mislukte plan om ‘n belang in FIFA se kommersiële bedrywighede aan ‘n privaat beleggingsmaatskappy te verkoop. Wallis en Engeland het verlede week hul steun onttrek. Ierland sê die onlangse gebeure laat groot kommer ontstaan oor bestuur, deursigtigheid en die gebrek aan betekenisvolle konsultasie deur FIFA.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vierduisend-326-duisend-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….