Nuus 18:00
BULLETIN 13 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ponzi-“baas” Louis Liebenberg het nie geestelike siektes nie
# Statistiek SA sê Junie se mynbousyfers toon laer produksie, maar sterker verkope [KLANK]
# En, die Suid-Koreaanse BTS-ster ‘V’ onthul hy kry behandeling vir gehoorverlies
# Die Ponzi-skema-beskuldigde, Louis Liebenberg, het vandag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn, waar ‘n psigiatriese verslag bevind het dat hy geen geestelike siektes het nie en geskik is om verhoor te word. Hy is verwys vir psigiatriese waarneming na vrae oor sy geestestoestand. Die verslag baan die weg vir sy strafsaak om voort te gaan. Hy staan tereg op sowat 125 aanklagte, insluitend afpersing en geldwassery, maar ontken enige oortredings. Hy en sy agt medebeskuldigdes, insluitend sy vrou, Dezi, het na bewering duisende mense oortuig om meer as vier-miljard rand oor te gee vir beleggings in die diamantbedryf.
# Statistiek Suid-Afrika sê mynproduksie het in Junie met vier-persent gedaal vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Die daling is hoofsaaklik te wyte aan laer produksie van platinumgroepmetale, steenkool en ystererts. Mynbou-uitset het ook met 2,7-persent tussen April en Junie gedaal. Juan-Pierre Terblanche van Statistiek SA sê mineraalverkope op ‘n maandgrondslag het ook met 27,2-persent gestyg wat op beter pryse en verkope dui ondanks die daling in mynproduksie:
# Gregory Loftus, die pa van die vermoorde KwaZulu-Natalse taxi- en insleepdiens-eienaar Bevan Loftus, het aan die Madlanga-kommissie gesê verskeie sake teen sy seun is verdigsel. Loftus het gesê Bevan het te doen gehad met sake wat verkeersoortredings en ‘n bewering van poging tot moord ingesluit het. Hy beweer die saak van poging tot moord is nooit op die hofrol geplaas nie weens onvoldoende bewyse, maar is wel by die Misdaadrekordsentrum as ‘n skuldigbevinding aangeteken:
# Die BTS-lid ‘V’, oftewel Kim Tae-hyung, het onthul hy kry al vir ongeveer twee en ‘n half jaar behandeling vir gehoorverlies in sy regteroor. Die Suid-Koreaanse ‘boyband’ van sewe lede is een van die wêreld se grootste K-pop-sensasies. V sê sy gehoor het versleg terwyl hy in Suid-Korea se weermag gedien het. Hy het aanhangers meegedeel dat hy nou medikasie neem en gereeld hospitaal toe gaan. Sy onthulling kom terwyl BTS voortgaan met ‘n lankverwagte eerste wêreldtoer sedert al sewe lede hul verpligte militêre diens voltooi het.
# Rugby: Curwin Bosch sal die nommer tien-trui dra in sy eerste wedstryd vir die Bulle wanneer hulle Saterdag op Loftus teen die All Blacks speel. Hy het onlangs van Brive in Frankryk teruggekeer. Bosch se skakelmaat sal die Springbok Embrose Papier wees, met die veteraan Willie le Roux op heelagter. Hanro Liebenberg, wat onlangs van Leicester Tigers in Engeland verhuis het, sal die nommer sewe-flank wees, met Marcell Coetzee as kaptein. Die Bulle, toe bekend as Noord-Transvaal, het die All Blacks in hulle vorige wedstryd in 1976 geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-652-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-375-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….