Nuus 16:00
BULLETIN 13 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan strafregtelike klagte indien teen die tien swakste munisipale bestuurders
# Die Departement van Verdediging is in die kruisvuur oor vertragings met informele nedersettings wat basisse binnedring
# En krieket: Die Proteas se afrigter sê hy hou Duan Jansen al ‘n tyd lank dop
# Die DA gaan strafregtelike klagte indien teen wat hy bestempel as die tien mees ongewenste munisipale bestuurders. Die ses bestuurders van die Vrystaat, twee van die Oos-Kaap en een elk van Noordwes en die Wes-Kaap het na bewering nie finansiële state ingedien nie. Die DA se woordvoerder, Marina van Zyl, sê hulle moet die gevolge dra vir growwe nalatigheid en beweerde oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur:
# Die Departement van Verdediging en Militêre Veterane het in die Parlement onder skoot gekom oor vertragings met die aanpak van die toenemende inbreuk van informele nedersettings op militêre basisse. Die departement sê dit bedreig nasionale veiligheid, militêre gereedheid en kritieke infrastruktuur. Carl Niehaus van die EFF het tydens die portefeuljekomitee se vergadering die departement gekritiseer omdat hulle min vordering gemaak het met ‘n tussen-departementele taakspan wat 15 maande gelede gestig is:
# Die Stad Kaapstad het tegniese bystand van meer as ‘n miljoen-rand van die Duitse ontwikkelingsagentskap GIZ goedgekeur ingevolge die Suid-Afrika-Duitse Energieprogram. Die program is in ooreenstemming met die metro se Energie-strategie en gestruktureer om Suid-Afrika se energie-oorgang te ondersteun deur samewerking vir ‘n betroubare, bekostigbare en skoon energiestelsel. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die program sal drie jaar lank duur:
Nuus uit die buiteland:
# Zambiërs stem vandag in ‘n presidents-, parlementêre en plaaslike regeringsverkiesing, met president Hakainde Hichilema wat ‘n tweede termyn probeer beklink. Die uitslae word Maandag verwag. Hichilema het sy veldtog gevoer oor Zambië se ekonomiese herstel en skuldherstrukturering, terwyl sy teenstander, die ervare parlementslid Brian Mundubile, gesteun word deur ondersteuners van wyle oudpresident Edgar Lungu. ‘n Kandidaat benodig meer as 50-persent van die steun om volstrek te wen.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê Duan Jansen is ‘n dinamiese veelsydige speler van dieselfde kaliber as sy tweelingbroer, Marco, en hy hou hom al ‘n geruime tyd dop. Marco het sedert 2021 vir Suid-Afrika geskitter met die kolf en die bal. Duan sal na verwagting sy internasionale buiging maak in volgende maand se driehoekige T20-reeks teen Namibië en Zimbabwe in Windhoek nadat hy beïndruk het vir die Joburg Super Kings in die SA20, Mumbai Indians in die Indiese Premierliga en die plaaslike span, die Titans.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-474-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….