Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die verdoemende getuienis teen die polisie in KwaZulu-Natal wat voor die Madlanga-kommisie gelewer is. Die adjunkdirekteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Len John, het getuig van die polisie se gespesialiseerde taakspanne doen die vuilwerk van misdaadsindikate om teen teenstanders op te tree. Hy sê ook die polisie word na bewering betrek by die plaaslike insleepvoertuig-oorlog.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie met regstappe gedreig het, gee die Departement van Verdediging en Militêre Veterane ná 18 dae aandag aan die voortslepende kragonderbreking by 4 SA Infanteriebataljon in Middelburg, Mpumalanga.
En tweedens skryf die webblad twee verdagtes het in die Landdroshof in Mitchell’s Plain verskyn nadat dit op sosiale media aan die lig gekom het dat hulle na bewering ‘n 11-jarige dogtertjie vir honderd-rand uithuur. Die beskuldigdes is familie van die slagoffer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ‘n ongeïdentifiseerde polisiebeampte, bekend as Getuie P, het aansoek gedoen om agter geslote deure getuienis te lewer voor die Madlanga-kommissie. Die getuie sê daar bestaan kommer oor die veiligheid van informante, sy eie sekuriteit en die moontlike blootstelling van sensitiewe teenintelligensiemetodes.
# Sowetan:
Berig ook oor Len John se getuienis voor die Madlanga-kommissie. Hy het getuig die gespesialiseerde polisie-eenhede in die provinsie skiet vermeende misdadigers doelbewus dood.
# En The Citizen:
Lei met: “KILLER COPS RUN AMOK” en skryf ook oor die getuienis voor die Madlanga-kommissie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ondanks ernstige waarskuwings deur die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Mcpherson, oor die onnodige huur van privaat geboue vir staatsgebruik, is daar departemente wat dit skynbaar steeds doen. Die koerant skryf oor ‘n gehuurde gebou van sewe-miljoen-rand wat tans leeg staan.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n vyfjarige seuntjie wat plastiese chirurgie moet ondergaan nadat hy ernstig met kookwater verbrand het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Parlement gaan weer besin oor die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se weerhouding van fondse as strafmaatreël vir swak presterende munisipaliteite. Daar moet duideliker riglyne uitgespel word oor wanneer die maatreëls geregverdig is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor die getuienis voor die Madlanga-kommissie teen die polisie se spesialis-eenhede in die provinsie.
En tweedens word berig die plaaslike Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie dreig om opnuut te staak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kantoor van die ombud het bevind die konsultasies wat vir die voorgestelde Baynes-hidrokragprojek uitgevoer is, voldoen nie aan die Wet op Omgewingsbestuur nie. Daar is nie amptelike gesprekke gevoer met die gemeenskappe wat geraak word nie.
En tweedens skryf die koerant Uranium One en Headspring Investments het bevestig dat die uraankernmonsters van die boorwerk wat in vraghouers op ’n plaas sowat 40-kilometer buite Rehoboth gestoor word, onlangs verwyder is.