Nuus 17:00
BULLETIN 12 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola neem oor as die voorsitter van die SAOG-raad
# COPE sê president Ramaphosa laat die werklose jeug in die steek
# En, Zimbabwe verklaar ‘n ramptoestand ná ‘n veerboottragedie op die Karibameer
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het amptelik die leisels as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se raad van Ministers oorgeneem. Hy volg Zimbabwe se minister van Buitelandse Sake, Amon Murwira, op. Lamola het in Durban gesê terwyl die streek se bevolking groei en aan veranderende ekonomiese realiteite onderwerp word, sal Suid-Afrika onder sy voorsitterskap ekonomiese groei, werkskepping, vrede en streekstabiliteit prioritiseer. Hy het klem gelê op die versterking van streeksveiligheid in die hele SAOG-streek:
# COPE beskuldig president Cyril Ramaphosa en ministers in die Ekonomiese Groepering dat hulle werklose Suid-Afrikaners, veral die jeug, in die steek laat. Woordvoerder Pakes Dikgetsi sê die regering se stilswye oor die verslegtende werkloosheidskrisis weerspieël politieke mislukking, jare se swak beleid en gebrekkige uitvoering. Die party versoek ‘n nasionale noodberaad oor jeugwerkloosheid met kerke, die sakegemeenskap en gemeenskapsorganisasies wat deelneem. Hy sê oplossings vir nywerheid, werkskepping en volhoubare voortbestaan moet op die beraad ontwikkel word:
# ‘n Drie-en-twintigjarige man wat aangekla word van die moord op vier mense in Reigerpark aan die Gautengse Oos-rand word aangehou na sy verskyning in die Boksburgse Landdroshof. Regan Collis staan tereg op vier aanklagte van moord, vyf van poging tot moord, twee van roof en twee van vuurwapen-verwante oortredings. Die slagoffers is twee lede van die Teen-bende-eenheid, konstabels Thapelo Tlomatsana en Siphiwe Sibeko, en twee vroue. Colllis het geen vorige veroordelings nie, maar strafsake is hangend teen hom. Hy gaan na verwagting die 25ste aansoek doen om borgtog.
# Zimbabwe het ‘n ramptoestand afgekondig nadat ‘n vaartuig van die Landelike Infrastruktuur-ontwikkelingsagentskap op die Karibameer omgeslaan het. Dit was van Kariba na Chalala onderweg toe sterk golwe dit blykbaar naby Long-eiland getref het. Daar was 114 passasiers en vyf bemanningslede aan boord. Sewe-en-sestig mense is gered, 38 sterftes is bevestig en verskeie mense word steeds vermis. Die regering span bykomende hulpbronne in vir reddings- en opsporings-operasies.
# Krieket: Die snelbouler Scott Boland en die paaltjiewagter Josh Inglis is uit Australië se groep gelaat vir die reeks van twee toetse teen Bangladesj, wat môre in Darwin begin. Die veteraan-draaibouler Nathan Lyon is terug na ‘n langtermynbesering en die ervare Mitchell Starc en Josh Hazlewood is ook ingesluit vir Australië se eerste toets in agt maande. Die reeks is deel van die Wêreldtoetskampioenskap-siklus. Kaptein Pat Cummins sê hulle is slaggereed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-88-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-434-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….