Nuus 14:00
BULLETIN 12 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA begin met ‘n veldtog teen wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer
# Krieket: Conrad staan agter sy jeugdige span vir die besoek aan Namibië
# En Suid-Korea teiken ‘n maanlanding teen 2030
# Die landbou-organisasie TLU SA het ‘n nasionale veldtog geloods teen voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer. Woordvoerder Caria van der Merwe sê die veranderings kan verreikende gevolge hê vir boere, landelike gemeenskappe en wettige vuurwapeneienaars. Die veldtog het ten doel om te verseker die landbougemeenskap se bekommernisse word gehoor. Van der Merwe sê openbare steun sal TLU SA se voorleggings versterk:
# Die Benchmarks-stigting sê voorgestelde veranderings aan Suid-Afrika se mynbouwette sal moontlik nie die steutelfigure in onwettige mynbousindikate teiken nie. Die Wysigingswetsontwerp op Algemene Mynbouwette stel voor onwettige mynbedrywighede en verwante bedrywighede moet tot misdade verklaar word, met boetes van tot 100-miljoen-rand en tronkstraf van tot 30-jaar. ‘n Navorser, David van Wyk, sê die owerhede moet die mense opspoor wat misdaadsindikate befonds en daarby baat vind, eerder as om slegs mynwerkers te teiken.
Die vakbondfederasie SAFTU sê intussen duisende verlate, vervalle en onbeveiligde myne het doodstrikke, omgewingsgevare en ‘n teelaarde vir georganiseerde misdaadsindikate geword. Veertien onwettige mynwerkers is gister dood in ‘n rotstorting in ‘n myn in Nkaneng naby Rustenburg in Noordwes. Die meeste van hulle was van Lesotho. Asive Dyani van SAFTU sê die tragedie toon opnuut die hoë menslike prys wat betaal word wanneer daar nie daadwerklik en omvattend opgetree word nie:
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, glo die jeugdige span wat hy later die maand na Windhoek stuur, sal opgewasse wees teen hullle bure. Hulle gaan ‘n driehoekige T20-reeks teen Namibië en Zimbabwe speel, gevolg deur ‘n eendagreeks teen Namibië. Dit sluit geeneen van die gereelde Proteas in nie. Die veelsydige spelers Duan Jansen – Marco se tweelingbroer – en Corbin Bosch se broer, Eathan, kan hul buiging vir Suid-Afrika maak. Ander opwindende jong talente sluit in Dewald Brevis, Kwena Maphaka, Lhuan-dré Pretorius en Jordan Hermann.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-26-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-418-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Korea het ‘n omvattende tegnologiestrategie onthul wat op sewe sleutelprojekte fokus en wissel van kernenergie en kwantumrekenaars tot ruimtevaart en biotegnologie. Die land wil nuwe dryfkragte vir ekonomiese groei ontwikkel wat verder strek as halfgeleiers en kunsmatige intelligensie. President Lee Jae-myung het tydens die bekendstelling gesê die strategie verenig doelwitte. Dit sluit in die ontplooiing van plaaslik-ontwikkelde klein modulêre kernreaktors teen 2035, ‘n maanlanding teen 2030, die ontwikkeling van ‘n Suid-Koreaanse kwantumrekenaar met 100-kwantum-bisse teen 2029, en produkte wat die brein met rekenaars verbind teen 2035.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….