Nuus 12:00
BULLETIN 12 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SABC benodig 120-miljoen-rand om die plaaslike regeringsverkiesing te dek
# City Power worstel met meer as ses-duisend onderbrekings-klagtes namate koue die vraag in Johannesburg verhoog
# En rugby: Die Haaie se afrigter erken hulle was nie opgewasse vir die All Blacks nie
# Die SABC benodig 120-miljoen-rand om regverdige en omvattende dekking van November se plaaslike regeringsverkiesing te verseker. Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Khusela Sangoni-Diko, sê geld is nodig vir redaksionele bedrywighede, tegnologie, uitslagdata en digitale dienste. Sy waarsku die openbare uitsaaier is op die rand van ineenstorting en kan teen Desember gedwing word om sy bedrywighede te staak as ‘n befondsingsmodel nie afgehandel is nie. Die SABC se voorsitter, Nomsa Chabeli, verseker regverdige dekking aan politieke partye en onafhanklike kandidate.
# Die vakverbond SAFTU sê werkloosheid vernietig mense se potensiaal, vererger armoede en veroorsaak maatskaplike krisisse. Die werkloosheidskoers het in die tweede kwartaal tot 33,6-persent gestyg teenoor 32,7-persent in die eerste kwartaal. Volgens die kwartaallikse arbeidsmagopname het die getal werklose mense met 345-duisend toegeneem tot 8,5-miljoen. Asive Dyani van SAFTU sê die land se ekonomiese beleid het die werkersklas weereens in die steek gelaat:
COPE vra die regering intussen om werkloosheid tot ‘n nasionale ramp te verklaar en ‘n dringende werk- en jeugindiensnemingsprogram in te stel. Die party wil hê die regering moet fokus op industrialisering, vervaardiging, infrastruktuur, landbou, die boubedryf en klein sake-ondernemings, met meetbare werkteikens waaroor daar kwartaalliks openbare verslag gedoen moet word.
# City Power hanteer meer as ses-duisend uitstaande onderbrekings-klagtes in Johannesburg namate ysige temperature die vraag na elektrisiteit verhoog. Die nutsmaatskappy sê ongunstige weerstoestande vertraag reaksietye, terwyl verhoogde kragverbruik bykomende druk op die elektrisiteitsnetwerk plaas. Woordvoerder Isaac Mangena sê spanne werk om die toevoer te herstel. Hy vra inwoners om onderbrekings deur sy amptelike kanale aan te meld terwyl spanne steeds besig is met herstelwerk.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, sê hy is trots op sy spelers se poging, al het ‘n indrukwekkende All Black-span hulle gisteraand in Durban 54-0 afgeransel. Die gashere, met ‘n paar jong spelers in die groep, het die wedstryd met ʼn aanvallende houding benader, al is dit nog vroeg in hulle voorseisoense veldtog. Pietersen erken sy span kon nie meeding met die besoekers se vaardighede nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….