Nuus 11:00
BULLETIN 12 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die jongste arbeidsmagopname toon die land het nuwe leierskap nodig
# Die NUM berei voor vir regsoptrede teen planne vir ‘n onafhanklike transmissiestelsel-operateur
# En Donald Trump sê Amerika is in algehele beheer van die Seestraat van Hormoes
# Die EFF sê Statistiek Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname is ‘n veroordeling van die regering se huidige ekonomiese beleidsrigting en ‘n aanduiding van ‘n duidelike behoefte aan nuwe leierskap. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal tot 33,6-persent gestyg, ‘n toename van 0,9 persentasiepunte teenoor die 32,7-persent van die eerste kwartaal. Die aantal werkloses het met 345-duisend toegeneem tot 8,5-miljoen. Die EFF hou steeds vol munisipaliteite moet die enjins vir werkgeleenthede, infrastruktuurontwikkeling en ekonomiese verligting word.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille het die aanstelling van die nuwe Suid-Afrikaanse Toerismeraad verwelkom en sê dit sal die nodige leierskap bied om groei te bevorder en die sektor te vernuwe. Die elf raadslede het kundigheid in toerisme, bestuur, finansies, digitale vernuwing en belegging, en sal vir drie jaar dien. Die ministerie se woordvoerder, Aldrin Sampear sê die raad sal help om meer besoekers en beleggings te lok, werk te skep en volhoubare ekonomiese groei te ondersteun:
# Die mynwerkersvakbond N-U-M se nasionale uitvoerende komitee gaan Eskom se herstrukturering in die hof uitdaag en sê hy sal tot by die Konstitusionele Hof gaan. President Cyril Ramaphosa het verlede maand ʼn plan ondersteun vir die vestiging van ʼn onafhanklike transmissiestelsel-operateur. Dit sal Eskom se eeu-oue alleenheerskappy beëindig en privaat vervaardigers en handelaars toelaat om ʼn vrye elektrisiteitsmark te skep. N-U-M se hoofsekretaris, Mpho Phakedi, sê dis ʼn stap na privatisering:
# President Donald Trump sê hy vertrou Iran nie en Amerika het algehele beheer oor die Seestraat van Hormoes. Teheran het verklaar hy sal nie die strategiese waterweg oopmaak nie, tensy Washington instem om oorlogsvergoeding te betaal en sanksies te beëindig. Sowat ‘n vyfde van die wêreld se olie en vloeibare gas beweeg normaalweg daardeur. Iran en Oman voer steeds gesprek oor die seestraat. Trump beweer Hormoes behoort nou aan Amerika:
# Rugby: Die slot Miles Amatosero sal minstens die Wallabies se volgende wedstryd misloop na sy rooikaart tydens verlede naweek se oorwinning oor Japan in Osaka. Hy is in die 33ste minuut afgestuur vir gevaarlike spel. Amatorsero sal nie in die komende naweek se terugkeerwedstryd in Townsville speel nie, en sal ook ‘n klubwedstryd vir Gordon misloop, maar kan terugkeer vir Australië se wedstryd teen Argentinië later die maand as hy ‘n afrigtings-ingrypingsprogram voltooi. Hy het glo ‘n reputasie daarvoor dat hy soms humeurig is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-685-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-401-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….