Nuus 09:00
BULLETIN 12 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Pandor is bekommerd oor die private Afrikaanse universiteit wat gebou word
# Tshwane skep 22-duisend werksgeleenthede terwyl werkloosheid daal
# En Thailand skort die uitreiking van nuwe wapenlisensies op in reaksie op verlede week se massaskietery
# Die ANC-ringkop en voormalige minister Naledi Pandor is bekommerd oor die nuwe private, eksklusiewe Afrikaanse Akademia-universiteit wat in Pretoria gebou word. Die nuwe kampus word ontwikkel deur ‘n vennootskap tussen Solidariteit en Kanton, teen ‘n verwagte koste van meer as drie-miljard-rand. Die universiteit sal voorsiening maak vir vyfduisend voltydse voorgraadse studente en eenduisend-500 nagraadse studente. Pandor het in ‘n onderhoud met African Renaissance Podcast gesê die stigting van ‘n Afrikaanse universiteit is deel van ‘n breër politieke en maatskaplike uitdaging:
# Cosatu sê moedige en bepalende optrede is nodig om die land se werkloosheidskrisis te takel. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het met 0,9-persent gestyg van 32,7-persent in die eerste kwartaal vanjaar tot 33,6-persent in die tweede kwartaal. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê die omvang van die krisis vereis ‘n aggressiewe stimuluspakket om die ekonomie aan die gang te kry, openbare en munisipale dienste te herbou en aan werkloses verligting te gee deur openbare indiensnemingsprogramme uit te brei:
# Die Stad Tshwane het in die tweede kwartaal vanjaar 22-duisend werksgeleenthede bygevoeg. Volgens Statistiek Suid-Afrika het die metro se amptelike werkloosheidsyfer met 2,6-persent gedaal, van 36,8-persent tot 34,2-persent. Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê terwyl Tshwane werksgeleenthede bygekry het, het Johannesburg in die kwartaal sowat 28-duisend en Ekurhuleni omtrent drie-duisend werksgeleenthede verloor. Sy sê hierdie jongste syfers wys vordering in die metro is moontlik:
# Thailand se regering het die uitreiking van nuwe lisensies om vuurwapens te besit, te koop of te dra gestaak na verlede se dodelike skietvoorval by ʼn skool. ʼn Veertienjarige seun het sy grootouers met sy oupa se vuurwapen doodgeskiet voor hy by die Debsirin Nonthaburi-skool buite Bangkok op mense losgebrand het. Vyf personeellede en ʼn 12-jarige meisie is dood waarna hy homself doodgeskiet het. Eerste minister Anutin Charnvirakul sê die regering gaan nuwe wapenwette instel, met strenger beheermaatreëls en aansienlike strenger strawwe. Ongeveer 10,3-miljoen vuurwapens in Thailand is in burgerlike besit.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina, het Naomi Osaka van Japan verslaan en is deur na die Kanadese Ope-halfeindronde in Toronto. Die Kazakstaniër kom teen Coco Gauff te staan nadat Belinda Bencic van Switserland weens ‘n heupbesering aan die kwarteindstryd teen Gauff onttrek het. In die ander halfeindstryd sal die Pool Iga Swiatek teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan kom. In Montreal het die verdedigende kampioen Ben Shelton die Tsjeg Jakub Mensik uitgeskakel, terwyl sy Amerikaanse landgenoot Learner Tien die Spanjaard Daniel Merida verslaan het om ook die halfeindstryd te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-754-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-398-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….