Nuus 17:00
BULLETIN 11 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank neem sleutel-betalings oor
# NSFAS word belas met miljarde rand se studielenings wat nog nie terugbetaal is nie
# En, die ontsetelde Siriese diktator Bashar al-Assad word in absentia ter dood veroordeel
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank neem regstreekse beheer oor van belangrike regulatoriese en oorsig-funksies wat die Betalingsvereniging van Suid-Afrika voorheen hanteer het. Die veranderings is van vandag af van krag as deel van veranderings om die nasionale betaalstelsel te moderniseer en die veiligheid en veerkragtigheid te versterk. Die vereniging se oorblywende funksies rondom elektroniese geldoorbetalings, DebiCheck, PayShap en onmiddellike klaring verskuif teen 2 September na PayInc. Die bank sê verbruikers en ondernemings behoort nie enige ontwrigting van betalings of bankdienste te ervaar nie.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente word volgens berigte belas deur ongeveer 823-duisend voormalige studente met 49,5-miljard-rand se studielenings wat nog nie terugbetaal is nie. Die syfers het hernude kommer veroorsaak oor die skema se leningsherwinning en finansiële bestuur. NSFAS het voorheen begunstigdes wat voor 2018 lenings ontvang het, gevra om hul skuld terug te betaal wanneer hul die vereiste inkomstedrempel bereik. Die Spesiale Ondersoekeenheid het ook miljarde rand verhaal in fondse wat verbind is aan ongekwalifiseerde begunstigdes en instellings.
# Die DA sê die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, se regsdreigemente teen munisipaliteite wat skole se water en elektrisiteit ontkoppel, sal nie die provinsie se langdurige nutsdienste-krisis oplos nie. Die party skryf dit toe aan swak samewerking, onakkurate munisipale fakturering, onbetaalde eiendomsbelasting en onvoldoende befondsing. Die DA-lid, Sergio Isa Dos Santos, sê dringende optrede is nodig om te voorkom dat leerders die prys betaal vir die provinsiale regering se tekortkominge:
# ‘n Siriese hof het die ontsetelde voormalige president Bashar al-Assad in absentia ter dood veroordeel nadat hy skuldig bevind is aan oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom tydens die land se burgeroorlog. Assad het saam met sy gesin na Moskou gevlug nadat sy regime in Desember 2024 omvergewerp is, wat meer as vyf dekades van familieheerskappy beëindig het. Sy neef, Atef Najib, is ook ter dood veroordeel. Ses voormalige militêre en veiligheidsbeamptes, insluitend Assad se broer Maher en die voormalige minister van Verdediging Fahd al-Freij, is ook in hul afwesigheid ter dood veroordeel.
# Rugby: Die Springbok-legende Tendai “Beast” Mtawarira glo Suid-Afrika gaan Nieu-Seeland verslaan in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Die stut, met 117 toetse op sy kerfstok, glo die Bokke se grofgeskut-voorspelers sal die All Blacks oorrompel en Suid-Afrika die voordeel besorg. Mtawarira sê die Suid-Afrikaanse pak se krag en fisiese aanslag kan beslissend wees in een van die sport se grootste kragmetings tussen die wêreldkampioen en sy vernaamste teenstander:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-247-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-391-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….