Nuus 15:00
BULLETIN 11 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Peiling toon steun vir die MK-party daal in eThekwini
# Suid-Afrika se werkloosheidsyfer styg tot 33,6-persent
# En rugby: Die All Blacks onttrek hul ster-skrumskakel aan die kragmeting met die Haaie
# ‘n Peiling toon steun vir die MK-party het in eThekwini, KwaZulu-Natal, met 15-persentasiepunte gedaal, maar dis steeds die grootste politieke mag in die metro. Die party staan nou op 33-persent vanaf 48-persent in 2024 weens twee jaar van interne chaos onder oudpresident Jacob Zuma se leierskap. Die peiling is gedoen in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in November, met politieke partye wat meeding om beheer oor KwaZulu-Natal se ekonomiese spilpunt.
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, het die National Coloured Congress se parlementslid, Fadiel Adams, tereggewys oor die laat indiening van sy verklaring. Adams skryf dit toe aan probleme met sy skootrekenaar en sê hy het sy bes probeer om die sperdatum te haal. Madlanga verwerp dit as ongeloofwaardig. Hy het Adams gewaarsku om nie die kommissie, die Parlement of die mense wat hy verteenwoordig te verontagsaam nie:
# Die vakbond GIWUSA eis die onmiddellike nasionalisering van die farmaseutiese bedryf. Pharmaceuticals Made in South Africa het verlede week beweer plaaslike medisynevervaardigers verloor belangrike tenders weens die Gesondheidsdepartement se fokus op prys, wat die afgelope 18-maande twee-duisend-500 werksgeleenthede gekos het. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die regering moet regstreekse eienaarskap en beheer van vervaardigings-aanlegte oorneem om te verseker produksie woord deur maatskaplike behoeftes aangevuur en nie deur private wins nie:
# Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal tot 33,6-persent gestyg, wat die land se voortdurende werkloosheidskrisis beklemtoon. Statistiek Suid-Afrika sê indiensneming het effens afgeneem terwyl die aantal werkloses toegeneem het. Die arbeidsmag het met 121-duisend gegroei namate meer mense die arbeidsmark betree het op soek na werk. Statistiek Suid-Afrika sê hoewel minder mense ontmoedig is, bly arbeidsmark-toestande swak, met talle Suid-Afrikaners wat sukkel om werk te kry terwyl ‘n toenemende getal mense werk soek.
# Rugby: Die ster-skrumskakel Cam Roigard is weens ‘n ligte besering onttrek aan die All Blacks se span vir vanaand se wedstryd teen die Haaie in Durban. Hy is op die bank gekies vir die ontmoeting op Kingspark, maar hoofafrigter Dave Rennie het besluit om nie kanse te vat met sy sleutelspeler voor die toetsreeks teen die Springbokke nie. Roigard word deur Cortez Ratima vervang. Die besoekers speel Saterdag op Loftus teen die Bulle voor hulle die naweek daarna die wêreldkampioen in die eerste toets op Ellispark pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-279-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….