Nuus 14:00
BULLETIN 11 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se werkloosheidsyfer styg tot 33,6-persent
# Veertien onwettige mynwerkers sterf en verskeie is beseer in Marikana
# En krieket: Die medegashere van 2027 se Wêreldbekertoernooi gaan ‘n driehoekige T20-reeks in Windhoek speel
# Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal tot 33,6-persent gestyg, wat die land se voortdurende werkloosheidskrisis beklemtoon. Statistiek Suid-Afrika sê indiensneming het effens afgeneem terwyl die aantal werkloses toegeneem het. Die arbeidsmag het met 121-duisend gegroei namate meer mense die arbeidsmark betree het op soek na werk. Statistiek Suid-Afrika sê hoewel minder mense ontmoedig is, bly arbeidsmark-toestande swak, met talle Suid-Afrikaners wat sukkel om werk te kry terwyl ‘n toenemende getal mense werk soek.
# Veertien onwettige mynwerkers is dood aangetref in ‘n verlate skag naby die Nkaneng-informele nedersetting in Marikana, Noordwes. Hul liggame is vanoggend ontdek, terwyl verskeie ander mynwerkers beseer is. Polisiewoordvoerder Athlene Mathe sê die omstandighede rondom die sterftes is tans onduidelik. Die provinsiale polisiekommissaris, Patrick Asaneng, sê ondersoeke duur voort met noodspanne wat die situasie beoordeel en die beseerdes bystaan.
# Die National Coloured Congress se parlementslid, Fadiel Adams, hou vol probleme met sy skootrekenaar is die rede vir die laat indiening van sy verklaring aan die Madlanga-kommissie. Hy sê dit vries gereeld, wat hom dan dwing om inligting van kollegas te ontvang en oproepe te maak. Adams sukkel ook om te verduidelik wanneer hy die eerste keer van die Reël 3-kennisgewing bewus geword het, en voorsitter Mbuyiseli Madlanga betwyfel dit:
# Alle bergpasse in die Oos-Kaap wat gister weens swaar sneeuval gesluit was, is vanoggend heropen. Woordvoerder Unathi Binqose sê paaie bly nat en glad, en het motoriste aangespoor om versigtig te wees. Daar is digte mis en motreën op die Penhoekpas op die N6 tussen Komani en James Calata, wat sigbaarheid verminder. Binqose sê koue, reën en mis kom ook voor op laagliggende gebiede nader aan die kus:
# Krieket: Die mede-gashere van volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika gaan later die maand in ‘n driehoekige T20-reeks speel. Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe sal mekaar van die 28ste twee keer elk in die Namibiese hoofstad, Windhoek, pak en die top-twee spanne speel op 6 September in die eindstryd. Krieket Namibië se uitvoerende hoof, Johan Muller, sê hulle is diep dankbaar vir die buurlande se toewyding aan die reeks, wat daarop gemik is om die sport op die vasteland te laat groei. Die Wêreldbeker begin op 4 Oktober volgende jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-210-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-380-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….