Nuus 13:00
BULLETIN 11 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 40-duisend verkragtingsake en 24-duisend moorde is in die 2024/25-boekjaar aangeteken
# Fadiel Adams se getuienis voor die Madlanga-kommissie word uitgestel
# En tennis: Sinner onttrek aan die Cincinnati-ope weens ‘n besering
# Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, is bekommerd oor die toename in geweldsmisdaad. Suid-Afrika het in die 2024/25-boekjaar 24-duisend-692 moorde, meer as 40-duisend verkragtingsake en 190-duisend gewone aanrandings aangeteken. Cachalia het op ‘n vraag in die Parlement onthul dat tien-duisend-129 moorde vir vervolging verwys is, met drie-duisend-628 wat tot skuldigbevindings gelei het. ‘n Verdere 892 het tot vrysprake gelei, terwyl 893 sake as nie-vervolgbaar aangeteken is. Cachalia sê die syfers beklemtoon ook die hoë druk waaronder die regs- en die hofstelsel verkeer.
# Die Madlanga-kommissie het die getuienis van die leier van die National Coloured Congress en parlementslid, Fadiel Adams, tot volgende Woensdag uitgestel. Getuienisleier Michael Chaskalson sê Adams se verklaring is eers gisteraand ontvang, ondanks herhaalde versoeke sedert Oktober verlede jaar. Hy beklemtoon die kommissie benodig voldoende tyd om die verklaring te bestudeer en die ondervraging voor te berei, aangesien Adams ‘n belangrike getuie is:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, versoek leerders, ouers en skoolgemeenskappe om voorsorgmaatreëls te tref te midde van koue en nat weer. Woordvoerder Onwabile Lubhelwana moedig leerders aan om warm aan te trek en steeds skool toe te gaan indien hulle gesond is en dit veilig is om te reis. Hy waarsku leerders om nie vure op skoolterreine te maak nie aangesien dit ernstige veiligheidsgevare inhou:
# Die verloofde van ‘n swanger Suid-Afrikaanse vrou, Nqobile Malangeni, bepleit haar vrylating nadat Amerikaanse immigrasie-owerhede haar op 30 Julie in Las Vegas aangekeer het. Die Amerikaanse Agentskap vir Immigrasie- en Doeane-afdwinging sê sy het haar visumvoorwaardes oortree deur langer aan te bly as wat toegelaat is en is onderhewig aan ‘n finale uitsettingsbevel. Haar ongenoemde verloofde was voorheen in die Amerikaanse Weermag. Hy sê hulle het beplan om te trou en hy vrees ook hy sal moontlik nie hul kind kan ontmoet indien sy gedeporteer word nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het hom aan die Cincinnati-ope onttrek weens ‘n regterkniebesering, wat kommer wek oor sy fiksheid vir die Amerikaanse Ope, wat op 30 Augustus begin. Die Italianer het nog nie weer deelgeneem sedert hy verlede maand sy tweede agtereenvolgende Wimbledon-titel verower het nie. Sinner sê hy is gefokus op sy voorbereiding vir die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar. Die Cincinnati-ope begin Donderdag met die Duitser Alexander Zverev en Novak Djokovic van Serwië onder die sterre in aksie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-133-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-374-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….