Nuus 12:00
BULLETIN 11 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man bepleit die vrylating van sy swanger Suid-Afrikaanse verloofde in Amerika
# Die Nasionale Rampbestuursentrum koördineer sy reaksie in gebiede wat deur die gure winterweer geraak is
# En rugby: Twee gedwonge veranderings vir die Haaie voor vanaand se wedstryd teen die All Blacks
# Die verloofde van ‘n swanger Suid-Afrikaanse vrou, Nqobile Malangeni, bepleit haar vrylating nadat Amerikaanse immigrasie-owerhede haar op 30 Julie in Las Vegas aangekeer het. Die Amerikaanse Agentskap vir Immigrasie- en Doeane-afdwinging sê sy het haar visumvoorwaardes oortree deur langer aan te bly as wat toegelaat is en is onderhewig aan ‘n finale uitsettingsbevel. Haar ongenoemde verloofde was voorheen in die Amerikaanse Weermag. Hy sê hulle het beplan om te trou en hy vrees ook hy sal moontlik nie hul kind kan ontmoet indien sy gedeporteer word nie.
# Die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid prys wetstoepassingsagentskappe wat betrokke was in die ondersoek na die naweek se skietvoorval in Reigerpark. ‘n Persoon van belang is gister vir ondervraging ingeneem in verband met die moord op twee lede van die Teen-bende-eenheid en twee burgerlikes. Die komitee se voorsitter, Bandile Masuku, sê dis veral belangrik dat die geregsdienaars se gesteelde vuurwapens teruggevind is:
# Die regering waarsku die publiek om waaksaam te bly en uiters versigtig te wees terwyl gure winterweer wydverspreid voorkom, insluitend swaar sneeu-neerslae, ysige toestande, reën en sterk wind. Talle paaie is reeds gesluit en ontwrigting weens sneeu en reën is onder meer in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal aangemeld. Die regering se woordvoerder, William Baloyi, sê die Nasionale Rampbestuursentrum hou die situasie dop en koördineer hulpverlening in die betrokke gebiede:
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, moes twee veranderings aanbring vir vanaand se kragmeting met die All Blacks op Kingspark in Durban. Die slot Emile van Heerden is beseer en die Springbok-voorspeler Vincent Tshituka het harsingskudding. Deon Slabbert vervang Van Heerden in die opdrafspan en Corné Rahl vir Tshituka op die bank. Pietersen verdedig die insluiting van die 44-jarige All Black-legende Ma’a Nonu, wat pas by die Haaie aangesluit het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-985-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-361-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het die meeste ontevrede verbruikers, wat verantwoordelik is vir 78-persent van alle klagtes wat by die Ombud vir Verbruikersgoedere en -dienste ingedien word. Die ombud het tussen 1 Maart 2025 en 28 Februarie vanjaar 15-duisend klagtes ontvang, ‘n toename van 25,8-persent vanaf die 12-duisend-207 in die vorige boekjaar. Die meeste klagtes was oor stukkende goedere, kansellasies en afleweringsprobleme.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….