Nuus 11:00
BULLETIN 11 August 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa ontmoet Daniel Perez se gesin nadat Hamas sy oorskot oorhandig
# Die Gautengse premier loof die multidissiplinêre span in die Reigerpark-moordsaak
# En rugby: Twee gedwonge veranderings vir die Haaie voor vanaand se wedstryd teen die All Blacks
# Die Presidensie het bevestig dat president Cyril Ramaphosa die gesin van die Suid-Afrikaans-gebore kaptein Daniel Perez ontmoet het nadat die regering ingegryp en die militantegroep Hamas sy oorskot oorhandig het. Hy is op 7 Oktober 2023 vermoor tydens die aanvalle op Israel. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa het bevestig Suid-Afrika ondersteun ‘n omvattende vredesproses wat blywende vrede vir die mense van Israel en Palestina sal meebring:
# Die Gesondheidsdepartement beskuldig die organisasie Pharmaceuticals Made in South Africa dat hy die Parlement mislei het oor onlangse redes vir werksverliese in die sektor. Pharmisa het aan die Parlement gesê die departement se fokus op prys maak dit vir plaaslike medisyne-vervaardigers moeilik om tenders te kry, wat die afgelope 18 maande tot die verlies van twee-duisend-500 werksgeleenthede gelei het. Die departement sê Pharmisa het versuim om belangrike markontwikkelings in ag te neem wat druk plaas op vervaardigers, soos strenger regulatoriese vereistes.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, is bekommerd oor die groeiende bedreiging deur georganiseerde misdaad en sê bendes, dwelmoorloë en onwettige vuurwapens is die rede vir die toenemende aantal moorde. Dit volg op die naweek se moord op vier mense in Reigerpark, Ekurhuleni, waaronder twee lede van die Teen-bende-eenheid. ‘n Bekende bendeleier word ondervra oor die moorde. Lesufi sê die multidissiplinêre span wat die saak hanteer, moet vir die deurbraak geprys word:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake sê Amerika se jongste sanksies maak ʼn diplomatieke oplossing vir die oorlog onwaarskynlik. Die Amerikaanse Tesourie het verlede week sanksies ingestel teen twee digitale bate-uitruilings en die leier van ʼn netwerk van frontmaatskappye. Dit word volgens berigte deur die Iranse regime gebruik vir geldwassery, ontduiking van sanksies en ondersteuning aan die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps en ander terroristegroepe. ʼn Woordvoerder van die Iranse ministerie, Esmaeil Baqaei, sê Teheran het oor dekades bewys hy gaan nie deur sanksies gekniehalter word nie.
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, moes twee veranderings aanbring vir vanaand se kragmeting met die All Blacks op Kingspark in Durban. Die slot Emile van Heerden is beseer en die Springbok-voorspeler Vincent Tshituka het harsingskudding. Deon Slabbert vervang Van Heerden in die opdrafspan en Corné Rahl vir Tshituka op die bank. Pietersen verdedig die insluiting van die 44-jarige All Black-legende Ma’a Nonu, wat pas by die Haaie aangesluit het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-936-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-361-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….