Nuus 09:00
BULLETIN 11 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontmoet Daniel Perez se familie nadat Hamas sy oorskot vrystel
# Colombia kondig ‘n nasionale ramptoestand af
# En tennis: Swiatek en Svitolina dring deur na die Kanadese Ope-halfeindronde
# Die Presidensie het bevestig dat president Cyril Ramaphosa die familie van wyle kaptein Daniel Perez, wat in Suid-Afrika gebore is, ontmoet het nadat die regering ingegryp en die militante groep Hamas sy oorskot oorhandig het. Perez is op 7 Oktober 2023 tydens die aanvalle op Israel gyselaar geneem en vermoor. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het bevestig Suid-Afrika ondersteun ‘n omvattende vredesproses wat blywende vrede vir die mense van Israel en Palestina sal bring:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê sy departement het 61-persent minder werksure weens vanlyn stelsels verloor, wat ʼn aansienlike verbetering in dienste se betroubaarheid gebring het. Die totale werksure wat weens vanlyn stelsels vermors word, het afgeneem van 35-duisend-426 in 2024/2025 tot 13-duisend-867 in 2025/2-26. Schreiber sê die verbetering word toegeskryf aan ʼn reeks digitale hervormings wat gemik is op die modernisering van die departement se tegnologie-infrastruktuur en beter dienslewering:
# Die UDM in die Wes-Kaap sê hy het herhaaldelik gewaarsku oor die toename van onwettige vuurwapens en die misdaadnetwerke wat wapengeweld ondersteun. Dit volg nadat drie massaskietvoorvalle in Kaapstad die naweek elf lewens geëis het. Bulelwa Zondeka van die UDM sê die vermoede dat dwelms en afpersing verbind word met die jongste geweld toon verder dat onwettige vuurwapens, bendebedrywighede, dwelms en afpersing nie afsonderlik hanteer kan word nie:
# Die president van Colombia, Abelardo de la Espriella, het ‘n nasionale ramp afgekondig nadat 132 mense dood en meer as 480 beseer is in ‘n aardbewing van 7,4. Die middelpunt was naby die dorpie San José del Palmar, in die Chocó-provinsie. Noodspanne jaag om oorlewendes uit die puin te red maar die dodetal sal na verwagting verder styg. De la Espriella sê die rampstatus sal help om ekstra hulpbronne te mobiliseer in die streke wat die ergste geraak word. Die aardbewing is die sterkste in die land die afgelope dekade.
# Tennis: Voormalige wêreld-nommer-een Iga Swiatek is deur na die halfeindronde van die Kanadese Ope in Toronto. Die Pool het Diana Shnaider van Rusland binne 68 minute met 6-2, 6-1 geklop. Swiatek kom nou teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan. Svitolina het die Rus Ekaterina Alexandrova met 3-6, 6-0, 6-3 uitgeskakel en is deur na haar vierde WTA 1000-halfeindronde van die jaar. Intussen is twee van die wedstryde in die mans-kwarteindronde in Montreal gister weens reën uitgestel. Al vier die kwarteindwedstryde sal vandag plaasvind met die halfeindronde Woensdag en die eindstryd Donderdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-35-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-415-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….