Nuus 08:00
BULLETIN 11 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê gemeenskappe moet versigtig wees wees te midde van die gure weersomstandighede
# Die Parlement sê die verdedigingsbedryf dra steeds by tot ekonomiese groei en ontwikkeling
# En atletiek: Span SA wen agt medaljes by die o.20-kampioenskapsbyeenkoms
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, moedig inwoners en gemeenskappe aan om uiters versigtig te wees en veiligheid eerste te stel tydens gure weerstoestande wat tans in dele van die land voorkom. Dit word veroorsaak deur ‘n afsny-laagdrukstelsel en ʼn hoogdrukstelsel. Sneeu het voorgekom in bergagtige gebiede in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Vrystaat. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê hulle sal gekoördineerde reaksie- en hulpverleningspogings in die betrokke gebiede ondersteun:
# Die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging het die belangrikheid beklemtoon van ‘n goed funksionerende verdedigingsbedryf wat deur ‘n doeltreffende regulatoriese en toesighoudende raamwerk ondersteun word. Die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee het sy eerste kwartaalverslag oor die goedkeuring van invoer- en uitvoerpermitte vir konvensionele wapens vrygestel. Die komitee het 64 kontrakteringspermitte ter waarde van 17-miljard-rand, 86 uitvoerpermitte vir ammunisie ter waarde van 855-miljoen-rand en 29 uitvoerpermitte vir dubbelgebruikkomponente ter waarde van 172-miljoen-rand goedgekeur. Die komitee sê hierdie goedkeurings weerspieël die voortgesette sterkte en groeipotensiaal van Suid-Afrika se verdedigingsbedryf.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, eis sterker aanspreeklikheid vir die bestuur van openbare fondse en onderwyshulpbronne. Die LUR het gister tydens ‘n nuuskonferensie verwys na die bevindinge van ‘n provinsiale uitreikprogram onder die titel “Dit neem ‘n dorp om ‘n kind groot te maak”. Hy het bevestig dat ondersoeke voortduur na beweerde finansiële wangedrag deur skoolhoofde, lede van skoolbeheerliggame en ander amptenare. Maile waarsku dat korrupsie die gehalte van onderwys regstreeks ondermyn en leerders van geleenthede ontneem:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn uitvoerende bevel onderteken om die getal inentings wat vir kinders aanbeveel word, te verminder. Die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie beveel tans 18 inentings aan, maar dit sal tot elf verlaag word. Volgens die bevel sal kinders ingeënt word teen masels, pampoentjies, rubella, witseerkeel, klem-in-die-kaak, kinkhoes, polio, Hib, pneumokokkus, HPV en waterpokkies. Trump sê die inentings teen masels, pampoentjies en rubella sal in drie inentings toegedien word:
# Atletiek: Suid-Afrika is ná Wêreld-atletiek se Onder 20-kampioenskapsbyeenkoms in Eugene, Oregon, tiende op die algehele punteleer met agt medaljes: een goud, drie silwer en vier brons. Dis die land se grootste medalje-oes by die kampioenskap sedert die nasionale span in 2021 in Nairobi nege opgeraap het. Van die uitstaande prestasies is dié van Jan-Hendrik Heymans wat goud in spiesgooi gewen het, Tumi Ramokgopa wat silwer gebuit het in die vroue se 100- en 400-meter hekkies, en die mans se vier-maal-400-meter aflos waar hulle spog met silwer én ʼn nuwe Afrika-rekord.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-75-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-419-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….