Nuus 13:00
BULLETIN 10 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia sê die regering is vasbeslote om bendegeweld en georganiseerde misdaad vas te vat
# Twaalf mense is in Rusland dood en vyf in Oekraïne terwyl die twee lande mekaar steeds aanval
# En, ligte sneeu, reën en snerpende koue kom op dele van die N3-tolroete voor
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê verhoogde maatreëls is ingestel om georganiseerde en geweldsoortredings te bekamp. Dit sluit bendemisdaad en onwettige dwelms in. Hy het gister die toneel in Reigerpark, Ekurhuleni, besoek waar twee vroulike lede van die publiek en twee lede van die Teen-bende-eenheid Vrydagaand vermoor is. Cachalia sê bendelede is swaar gewapen en toon geen genade nie:
# Die ANC-vroueliga het gevra dat geskikte befondsing beskikbaar gestel word vir die implementering van die verklaring van geslagsgeweld en vrouemoord as ‘n ramptoestand. President Cyril Ramaphosa het verlede jaar geslagsgeweld as ‘n nasionale ramp geklassifiseer. Hy het ook lede aangestel vir die nuwe Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord. Die waarnemende president van die liga, Nokuthula Nqaba, sê die regering moet ook befondsing beskikbaar stel vir die ondersteuning van oorlewendes, voorkomingsprogramme en verbeterde toesig:
Die Vryheidsfront Plus sê intusssen die plaaslikeregeringsverkiesing in November bied vroue die geleentheid om te besluit wie hulle moet verteenwoordig. Vroue maak die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking uit. Die VF Plus sê die land se daaglikse werklikheid word gekenmerk deur misdaad, swak dienslewering, onveilige skole en water- en elektrisiteitsprobleme. Hy sê politiek vereis sterk, beginselvaste en praktiese vroue. Die party sê vroue moet van voor af lei, volgens hul oortuigings stem en leiers kies wat daartoe verbind is om hul belange te bevorder.
# ‘n Oekraïnse hommeltuigaanval het vanoggend minstens 12 slagoffers geëis en nog 39 beseer in die stad Nizjnekamsk in Rusland se Tatarstan-streek. ‘n Groot, tegnologies gevorderde olieraffinadery is in die stad geleë, waarskynlik die teiken van die aanval. Moskou sê hulle het 456 Oekraïnse hommeltuie afgeskiet. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê voortgesette aanvalle op olieraffinaderye is regstreeks gekoppel aan groter druk op Rusland om die oorlog te beëindig. Intussen is minstens vyf mense dood in ‘n Russiese aanval in Oekraïne se Kharkiv-streek.
# Sokker: Golden Arrows en Sekhukhune United is albei deur na die MTN8-halfeindronde. Arrows moes hard werk vir hul 1-0 oorwinning oor die 15-malige kampioene Kaizer Chiefs op die Moses Mabhida-stadion. Sekhukhune het AmaZulu met 4-3 in ekstra tyd op die Chatsworth-stadion in Durban verslaan, wat hulle vir die tweede agtereenvolgende seisoen in die laaste vier van die MTN8 plaas. In die halfeindronde sal die verdedigende kampioene Orlando Pirates, wat mik vir ‘n vyfde agtereenvolgende kroon, teen Sekhukhune United speel, met Mamelodi Sundowns wat teen Golden Arrows sal uitdraf.
# En ten slotte: Die N3-tolkonsessie sê die kombinasie van verhoogde verkeersvolumes, ongunstige weerstoestande en voortgesette konstruksie-aktiwiteite sal heel waarskynlik lei tot stadiger reistoestande en moontlike vertragings. Dit volg met die Vrouedag-langnaweek wat vandag ten einde loop, met swaar verkeer wat reeds noordwaarts na Gauteng ervaar word. Die konsessie se hoofbedryfsbeampte, Thania Dhoogra, sê ligte sneeu is aangemeld rondom Swinburne in die Vrystaat, met reën en ysreën wat gebiede tussen Mooirivier en Warden in KwaZulu-Natal beïnvloed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….