Nuus 17:00
BULLETIN 7 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Intelligensiestruktuur sê hy is reg vir di plaaaslike verkiesing en die SAOG-beraad
# Fikile Mbalula gee koalisies die skuld vir Johannesburg se agteruitgang
# En, rugby, die twee spanne bo-aan die punteleer skop die naweek se Curriebeker-aksie in Kimberley af
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê die land se veiligheidsmagte is ten volle voorbereid om veiligheid te verseker tydens die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November en die 46ste Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-beraad hierdie maand. Die medevoorsitter van NATJOINTS, Tebello Mosikili, sê wetstoepassingsagentskappe bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag, terwyl grenssekuriteit, Operasie Shanela en ander misdaadbestrydingsoperasies voortgaan om vrede, bestendigheid en die oppergesag van die reg te handhaaf:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, erken die party het foute gemaak tydens sy bewind in Johannesburg, maar sê koalisieregerings ondermyn dienslewering sedert die ANC beheer oor die stad verloor het. Mbalula het voor die aanvaarding van die ANC se 2026-manifes vir die plaaslike regeringsverkiesing gesê die party sal nie sy tekortkominge wegsteek nie. Hy voer egter aan koalisies vererger bestaande uitdagings en vertraag maatskaplike transformasie in munisipaliteite wat voorheen deur die ANC bestuur is:
# COPE vra ‘n onafhanklike ondersoek na bewerings dat die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, ingemeng het by ‘n regeringshuurkontrak. COPE beweer interne dokumente toon amptenare het ná ‘n mededingende proses, die JW Sauer-gebou aanbeveel, maar beweer die premier het die voorgestelde skuif gestuit. Die party se waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, bevraagteken ook Saul se betrokkenheid by besprekings oor die eiendom ondanks uitstaande huurkoste. Dikgetsi het gewaarsku teen politieke inmenging en versoek die Openbare Beskermer en wetstoepassingsagentskappe om die saak te ondersoek.
# Die Filippynse regering sê hy keur geen dreigemente van geweld goed nie, nadat vyf kiste met anti-China-boodskappe op verskillende plekke in Manila gevind is. Die kiste is oornag ontdek en bevat slagspreuke teen die Chinese Kommunistiese Party, wat gelei het tot ‘n polisieondersoek. Owerhede sê die kiste was leeg en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die voorval volg te midde van toenemende spanning tussen Manila en Beijing oor geskille in die Suid-Chinese See. Die regering veroordeel alle vorms van intimidasie en herbevestig sy verbintenis tot vryheid van spraak en die oppergesag van die reg.
# Rugby: Die voorste twee spanne op die punteleer, die Leeus en Griekwas, skop die naweek se Curriebeker-aksie môre-middag eenuur in Kimberley af. Die Blou Bulle kom daarna op Loftus teen die Pumas te staan, gevolg deur die wedstryd tussen die Haaie-vyftiental en Boland Kavaliers in Durban. Sondag ontmoet die Stormers-23 die Cheetahs op die Athlone-stadion in Kaapstad. Die Cheetahs is nou derde op die punteleer, gevolg deur Boland, die Stormers, die Pumas, die Haaie en die Bulle, wat nog nie ‘n wedstryd kon wen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-233-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-349-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 84-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….