Nuus 09:00
BULLETIN 7 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom vra die regering om die oordrag van sy bates na ‘n aparte transmissiemaatskappy uit te stel
# Defend Our Democracy moedig Suid-Afrikaners aan om voor middernag as kiesers te registreer
# En sokker, die Europese beheerliggaam UEFA sê sy boikot van FIFA-toernooie geld steeds
# Eskom-voorsitter Mteto Nyati sê die regering moet risiko’s vir die kragvoorsiener se finansies en sy kredietverskaffers aanspreek voor hy bates oordra na die Onafhanklike Transmissiestelsel-operateur. President Cyril Ramaphosa het die eerstefase-aanbevelings goedgekeur van ‘n taakspan wat herbevestig het dat die netwerk onder beheer van ʼn afsonderlike instelling geplaas moet word. Nyati het aan Bloomberg gesê die oordrag kan veranderinge in leningsooreenkomste veroorsaak en rekeningkundige probleme tot gevolg hê. Hy sê Eskom verkies ʼn model waarvolgens ʼn onafhanklike operateur as ʼn neutrale mark-koördineerder optree.
# Defend Our Democracy moedig alle Suid-Afrikaners wat kwalifiseer aan om te registreer en hul kieserregistrasie-besonderhede aanlyn na te gaan voor die verkiesingsdatum vir plaaslike regering vandag afgekondig word. Tydens die twee kieserregistrasie-naweke in Junie en vandeesmaand was daar interaksie tussen die Verkiesingskommissie en byna 4,7-miljoen kiesers. Die kommissie se aanlyn registrasieportaal sluit om middernag. Defend Our Democracy-woordvoerder, Wade Manning, beklemtoon die belangrikheid van plaaslike regering en sê dis die voorste linie van die land se demokrasie:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, vra sterker vennootskappe tussen regerings, die privaat sektor en vervoer-rolspelers om Afrika se volgende mobiliteit-revolusie aan te dryf. Sy het gister die internasionale vereniging vir openbare vervoer in Afrika se konferensie in Sandton, Johannesburg, toegespreek. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê die LUR het beklemtoon dat Afrika se vinnige verstedeliking geleenthede én uitdagings bied, wat doeltreffende, veilige en geïntegreerde openbare vervoer noodsaaklik maak vir inklusiewe ekonomiese groei:
# ‘n Hof in Nieu-Mexiko het die sosialemediareus Meta opdrag gegee om 9,3-miljard-rand te betaal omdat hy nie die publiek gewaarsku het oor die gevare van sy platforms vir kinders nie. Die uitspraak volg na die uitspraak in Maart waarin Meta, die maatskappy agter Instagram, WhatsApp en Facebook, skuldig bevind is aan misleiding van gebruikers oor die gevare van die platform en het opdrag gekry om 6,1-miljard skadevergoeding te betaal. Meta gaan appelleer en sê hy bly oortuig van sy rekord om tieners aanlyn te beskerm en sal homself verdedig teen bewerings wat die feite verkeerd voorstel.
# Sokker: Die Europese beheerliggaam, UEFA, hou vol dat hy steeds beplan om FIFA-kompetisies te boikot, ten spyte van president, Gianni Infantino, se verskoning oor sy afgestelde planne om aandele in die Wêreldbeker aan privaat beleggers te verkoop. UEFA sê lidlande was duidelik oor die voorwaardes vir deelname aan FIFA-kompetisies, maar nie almal is nagekom nie. Die boikot plaas Europese spanne se deelname aan die volgende FIFA-geleentheid in September in die weegskaal, wanneer die Onder 20-Wêreldbeker vir Vroue in Pole plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-209-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-264-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….