Nuus 07:00
BULLETIN 7 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Meth sê die Wysigingswetsontwerp oor Indiensnemingsdienste wys ‘n gebalanseerde pad vorentoe
# ‘n Investec-ekonoom sê beter logistiek kan Suid-Afrika se mynbougroei ontsluit
# En, Donald Trump ontken berigte dat Amerika ’n tekort aan ammunisie het
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê Suid-Afrika as belangrike bestemming vir migrante, moet die wettige aspirasies van sy burgers met die land se grondwetlike, streeks- en internasionale verpligtinge balanseer. Sy het die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste aan die Parlement voorgelê. Die wetsontwerp wil optrede teen die indiensneming van onwettige buitelanders in die land verskerp. Meth sê die wetsontwerp wil nie trekarbeiders se regte ontken nie, maar eerder seker maak alle werkers word beskerm teen onregverdige arbeidspraktyke en uitbuiting.
# Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê Suid-Afrika se mynbousektor maak steeds ‘n belangrike bydrae tot ekonomiese groei, ondersteun deur die land se ryk minerale hulpbronne. Volgens Hodes ondersteun die sterk wêreldwye vraag na platinumgroepmetale, goud, steenkool, ystererts, mangaan en chroom steeds uitvoere. Sy sê die oplossing van elektrisiteits- en logistieke probleme kan produksie en uitvoere selfs verder verhoog:
# eThekwini-burgemeester Cyril Xaba het skok uitgespreek oor die moord op die ANC-wyksraadslid, Sibusiso Khwela in Klaarwater, wes van Durban. Volgens voorlopige ondersoeke was die oorledene saam met verskeie gemeenskapslede in sy kantoor, toe ‘n onbekende verdagte inkom, hom talle kere skiet en van die toneel vlug. Khwela was verantwoordelik vir Wyk 17 in eThekwini. Die polisietaakspan oor politieke moorde sal die saak ondersoek. Xaba sê hulle gaan nie oor die motief vir die moord bespiegel nie:
# President Donald Trump van Amerika sê sy land se krygstuig-voorraad is massief en brei teen ʼn geskiedkundige tempo uit. Volgens berigte het die Amerikaanse leër byna 80-persent van sy onderskeppers vir sy grond-tot-lug-missielverdedigingstelsels opgebruik. Die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies berig dat Amerika teen einde Julie tussen 759 en 827 Patriot-missiele oorgehad het teenoor twee-duisend-330 voor die oorlog teen Iran begin het. Trump het in ʼn inskrywing op Truth Social gesê hy sal langtermyn-tronkstraf eis vir diegene wat verdink word dat hulle waninligting versprei.
# Rugby: Die Stormers-afrigter John Dobson sê hy verwag ‘n groot stylbotsing met sy fisieke span wat voorberei om die All Blacks vanaand in ‘n vinnige wedstryd in Kaapstad aan te vat. Hy sê die Stormers se deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskap beteken hulle het nog nie voorheen ‘n kenmerkende speelstyl soos dié van die All Blacks teëgekom het nie. Dobson dink egter sy span se beste kans sal wees om met hul fisieke spel die besoekers uit hul gemaksone te dwing:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-269-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-258-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-81-sent per vat.
# En om mee af te sluit, twee Suid-Afrikaanse innoveerders is op die kortlys vir die 2026 Afrika-prys vir Ingenieursinnovering. Die chemiese ingenieur, professor Dyllon Randall, het erkenning gekry vir die ontwikkeling van ‘n urien-tot-kunsmis-herwinningstelsel, terwyl biomediese navorser, Sincengile Ntshingila op die kortlys is vir die skep van ‘n virtuele weefselkultuuropleidingsplatform. Die finaliste sal in Oktober in Johannesburg meeding vir die eerste prys van meer as een-miljoen-rand, terwyl hulle ook sake-opleiding en mentorskap ontvang om hul innoverings te kommersialiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….