Nuus 18:00
BULLETIN 6 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir die onmiddelike ontslag van Julius Mkhwanazi
# Die Bedingingsraad verwerp John Steenhuisen se voormalige stafhoof, Roman Cabanac se eis van vyf-miljoen-rand
# En, Oekraïne tref twee Russiese olieraffinaderye in langafstand-aanvalle
# ActionSA het ‘n beroep op die stadsbestuurder van Ekurhuleni, Kagiso Lerutla, gedoen om die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, onmiddellik te ontslaan. Die party sê senior amptenare moet die hoogste mate van integriteit en aanspreeklikheid handhaaf. Die woordvoerder van ActionSA, Tumelo Tshabalala, voer aan versuim om op te tree ondermyn die publiek se vertroue en verswak die regering. Hy sê die ontslag sal ‘n duidelike boodskap stuur dat geen openbare amptenaar bo die wet verhewe is nie:
# Die vorige minister van Landbou, John Steenhuisen, se voormalige stafhoof, Roman Cabanac, het sy eis van vyf-miljoen-rand vir onbillike ontslag teen die Departement van Landbou verloor. Die bedingingsraad het beslis dit het geen jurisdiksie nie, omdat Cabanac se indiensneming voorwaardelik was op die verkryging van sekuriteitsklaring. Hy het nie klaring gekry nie nadat hy geweier het om sy Franse burgerskap prys te gee. Sy kontrak is in Junie verlede jaar beëindig nadat die Staatsveiligheidsagentskap sy sekuriteitsklaring geweier het.
# Die EFF-leier, Julius Malema, het ‘n hewige woordewisseling ontketen tydens ‘n sitting van die Parlement se ampsklagkomitee toe hy die ANC-LP Cameron Dugmore van rassisme en wit meerderwaardigheid beskuldig. Dit volg nadat Dugmore Malema tereggewys het omdat hy die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, op haar voornaam aangespreek het, wat volgens hom nie gepas is in die Parlement nie. Die voorsittende beampte moes ingryp om orde te herstel. Dugmore het ‘n geskiedenis in die stryd teen apartheid. Sy aktivisme dateer terug tot sy tienerjare toe hy, onder invloed van sy ma, ‘n lid van die Black Sash-beweging, gehelp het om apartheidstekens van strande te verwyder.
# Oekraïne se president, Volodimir Zelenski, sê die land se weermag het twee Russiese olieraffinaderye in langafstand-aanvalle getref. Raffinaderye in Basjkortostan en Jaroslawl is getref, en digte wolke swart rook is bo die stede gesien. Russiese amptenare sê 93 hommeltuie is vernietig, maar vallende wrakstukke het olietenks getref. Die Russiese Weermag sê hy het 605 Oekraïnse hommeltuie in verskeie streke onderskep en vernietig. Drie mense is volgens berigte dood. Oekraïne het onlangs ‘n reeks aanvalle op Russiese infrastruktuur uitgevoer, insluitend olieraffinaderye en pakhuise.
# Gholf: LIV Gholf het ‘n ooreenkoms met ‘n nuwe onbekende belegger bereik na maande se onderhandelings. Die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds het in April aangekondig hy gaan sy finansiering van die wegbreekliga aan die einde van die jaar beëindig. Die nuwe ooreenkoms sal na verwagting volgende maand afgehandel wees. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neill, sê spelers sal nou ook ‘n meerderheids-aandelebelang in die liga besit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-368-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-267-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 84-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….