Nuus 15:00
BULLETIN 5 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement skors die LP Fadiel Adams vir 20 dae
# Veertien mense sterf en meer as 20 is gewond in ‘n Russiese ballistiese missielaanval in Oekraïne
# En krieket: Stokes wil in die toekoms Engeland se afrigter word
# Die Parlement het die leier van die National Coloured Congress en parlementslid, Fadiel Adams, tot die einde van die maand geskors kragtens die Wet op die Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers. Hy word daarvan beskuldig dat hy die Parlement in oneer gebring het. Die sekretaris van die ampsklagkomitee, Thembinkosi Ngoma, het dit bevestig nadat Adams nie vandag se vergadering bygewoon het nie. Hy gaan Dinsdag voor die Madlanga-kommissie getuig, na verwagting oor klagtes rakende verklikkers, bewerings oor uitgelekte geklassifiseerde Misdaadintelligensie-dokumente en verwante strafregtelike aantygings.
Die ampsklagkomitee het advokaat Thandazani Madonsela intussen aanbeveel as getuienisleier in die saak teen president Cyril Ramaphosa. Hy het die meerderheidsteun van die EFF, die MK-party, Build One South Africa, die ATM en die UAT ontvang. Die ANC, Patriotic Alliance en Al Jama’ah het buite stemming gebly en die DA se kandidaat, Kate Hofmeyr, het net-net verloor. Voorsitter Makashule Gana sê die Parlement se administrasie sal die finale aanstelling doen:
# Die Nasionale Skuilingbeweging van Suid-Afrika verwelkom president Cyril Ramaphosa se aanstelling van sy lid, Zubeda Dangor, op Suid-Afrika se eerste statutêre Nasionale Raad vir Geslagsgeweld en Vrouemoord. Woordvoerder Joy Lange sê die raad is belangrik om die land se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord te versterk. Sy vertrou die raad sal samewerking tussen rolspelers verbeter, ondersteuning aan slagoffers versterk en die Nasionale Strategiese Plan oor Geslagsgeweld en Vrouemoord help bevorder:
# Veertien mense is dood en minstens 22 beseer in Russiese aanvalle op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, en omliggende gebiede. Moskou se Ministerie van Verdediging sê sy Weermag het ‘n grootskaalse aanval met grondgeleide wapens en langafstand-aanvalshommeltuie uitgevoer. Volgens die ministerie is vervoer-, logistieke en verspreidingsaanlegte geteiken. Rusland beweer die aanlegte word gebruik vir die berging en vervoer van wapens en ander militêre voorraad. Minstens 377 burgerlikes is verlede maand dood in Russiese aanvalle in Oekraïne, die dodelikste maand sedert die oorlog begin het.
# Krieket: Engeland se gewese kaptein, Ben Stokes, hoop om eendag as afrigter na die nasionale span terug te keer. Die 35-jarige veelsydige speler het in Junie uit internasionale krieket getree. Stokes is verras omdat Joe Root aangewys is as nuwe toetskaptein in plaas van witbal-kaptein Harry Brook. Hy wens Root net sukses toe, maar is bekommerd oor die bykomende verantwoordelikheid nadat hy die kapteinskap in April 2022 laat vaar het. Engeland se volgende toetsverpligting is ‘n tuisreeks van drie wedstryde teen Pakistan wat die 19de begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-25-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-170-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….