Nuus 14:00
BULLETIN 5 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ampsklagkomitee beveel Thandazani Madonsela as getuienisleier aan
# Rugby: Slegs vier skeidsregters is aangewys vir die All Blacks se wedstryde in Suid-Afrika
# En Nazi-skepe uit die Tweede Wêreldoorlog is weer sigbaar namate die Donau opdroog
# Die parlementêre ampsklagkomitee het advokaat Thandazani Madonsela aanbeveel as getuienisleier in die saak teen president Cyril Ramaphosa. Hy het die meerderheidsteun van die EFF, die MK-party, Build One South Africa, die ATM en die UAT ontvang. Die ANC, Patriotic Alliance en Al Jama’ah het buite stemming gebly en die DA se kandidaat, Kate Hofmeyr, het net-net verloor. Voorsitter Makashule Gana sê die Parlement se administrasie sal die finale aanstelling doen:
# Die DA het ‘n mosie van sensuur ingedien teen die speaker van die Gautengse wetgewer, Morakane Mosupyoe, oor ‘n reis van 5,9-miljoen-rand na Venezuela in November verlede jaar. Woordvoerder Solly Msimanga sê die uitgawes was verkwistend en die reis van min waarde aangesien Brand South Africa die land reeds op die toerisme-geleentheid verteenwoordig het. Hy sê openbare fondse behoort vir dienslewering aangewend te word en vra dat Mosupyoe aanspreeklik gehou word:
# Interpol se jongste Afrika-kuberbedreigings-evalueringsverslag toon dat kunsmatige intelligensie 55-persent van aangemelde kubermisdade op die vasteland moontlik maak. Dit maak aanvalle vinniger en al moeiliker vir slagoffers en platforms om op te spoor. Suid-Afrika se ultra-hoë verbinding maak dit ‘n magneet vir wêreldwye bedreigingsakteurs wat maksimum ontwrigting najaag. Interpol sê kubermisdaadverliese in Afrika het sedert 2024 verdubbel en tot meer as agt-miljard-rand gestyg. Hy beveel gestandaardiseerde digitale forensiese vermoëns, verbeterde oorgrens-samewerking en belegging in KI-geletterdheid onder wetstoepassers aan en formele samewerking tussen die privaat en openbare sektore.
# Rugby: Slegs vier skeidsregters is vir die All Blacks se wedstryde in Suid-Afrika aangewys. Karl Dickson van Engeland hanteer Vrydag se openingskragmeting met die Stormers in Kaapstad. Sy landgenoot, Matthew Carling, beheer die wedstryd teen die Haaie in Durban en die eerste toets op Ellispark. Nika Amashukeli van Georgië hanteer die wedstryd teen die Bulle op Loftus en die tweede toets in Kaapstad. Angus Gardner van Australië beheer die kragmeting met die Leeus op Ellispark en die derde toets op die FNB-stadion in Johannesburg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-122-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die watervlak van Europa se tweede langste rivier, die Donau, het so gedaal dat tientalle Nazi-skepe uit die Tweede Wêreldoorlog nou sigbaar is op die rivierbedding. Die rivier vloei van wes na oos deur verskillende lande, insluitend Duitsland, Slowakye, Serwië, Roemenië, Bulgarye, Moldowië en Oekraïne. Verroeste skeepsrompe word nou gesien in die middel van die rivier wat Serwië en Roemenië skei. Sommige is steeds met wapens gelaai. Dit het aan Nazi-Duitsland se Swartseevloot behoort en is doelbewus gesink tydens die onttrekking aan Roemenië aan die einde van die oorlog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….