Nuus 12:00
BULLETIN 5 August 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA stel ‘n wetsontwerp bekend om korrupte verskaffers op ‘n swartlys te plaas
# Donald Trump sê die Seestraat heropen binnekort of Iran sal swaar gestraf word
# En sokker: Die regering wens Banyana Banyana geluk na hulle kwalifiseer vir WAFCON se kwarteindronde
# ActionSA gaan ‘n wetsontwerp in die Parlement bekendstel wat daarop gemik is om Suid-Afrika se openbare verkrygingstelsel te versterk deur te verseker verskaffers wat by korrupsie betrek is, word verbied om sake te doen met die staat. Alan Beesley van ActionSA sê die voorgestelde Wetsontwerp op die Swartlys van Korrupte Verskaffers sal verpligte tydraamwerke vir swartlysprosesse instel, toesig deur die Nasionale Tesourie versterk en deursigtigheid verbeter:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra groter beskerming van onderwysers ná die moord op ‘n onderwyser wat in Tsakane in Brakpan, Gauteng, saam met leerders skool toe gestap het. Hy sê dis nie net die verlies van ‘n onderwyser nie, maar ook ‘n nasiebouer wat sy lewe gewy het aan die vorming van kinders se toekoms. Makaneta het die polisie versoek om te verseker die moordenaars word aangekeer. Hy verwelkom die sielkundige en maatskaplike ondersteuning wat die LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, aan leerders en onderwysers bied.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, herbevestig die regering se verbintenis tot die bevordering van geslagsgelykheid en om vroue se nalatenskap te eer met die eerste Portraits of Power-uitstalling. Dit bring hulde aan Charlotte Maxeke se bydraes. Ntshavheni sê dié verbintenis is in die Grondwet geanker en word weerspieël in beleide, programme en vennootskappe. Sy sê vroue is wêreldwyd aan die voorpunt van leierskap, diplomasie, vernuwing en ontwikkeling:
# President Donald Trump van Amerika sê die Seestraat van Hormoes sal binnekort heropen, want anders sal hy geen keuse hê as ‘n verwoestende nuwe aanval op Iran nie. Teheran ontken dat hy regstreeks met Washington onderhandel, en hou vol dat hy saam met Oman aan ʼn ooreenkoms werk om die seestraat te heropen. Die sluiting van hierdie belangrike seeweg het die wêreld se energiemark in chaos gedompel. Trump sê sy eerste keuse was nie hernude aanvalle nie, maar ʼn diplomatieke ooreenkoms met Iran.
# Sokker: Die regering het Banyana Banyana gelukgewens nadat hulle deurgedring het na die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi vir vroue in Marokko. Suid-Afrika het Burkina Faso 1-0 geklop na Thembi Kgatlana se doel. Die vier spanne in die halfeindronde deur na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Die adjunk- regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê die regering is daartoe verbind om met belanghebbendes saam te werk om vrouesport te versterk en te bevorder:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-185-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….