Nuus 09:00
BULLETIN 5 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy verbintenis tot grondonteiening
# Jacob Zuma plaas die MK-party se geldsake onder sy persoonlike beheer
# En Benjamin Netanyahu sê die Israelse weermag sal nie uit Gaza onttrek voordat Hamas ontwapen is nie
# Die ANC sê hy is nie verbaas oor die DA, AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge se regsaansoek teen die Onteieningswet nie. Die organisasies vra ‘n uitspraak deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof of bepalings in die Wet aan die Grondwet voldoen. Die ANC sê die DA het elke beslissende ingryping teengestaan om apartheid se strukturele ongelykhede af te takel en waardigheid, geleenthede en ekonomiese mag aan die swart meerderheid oor te dra. Die party sê grondhervorming, restitusie, billikheid en regstelling is nie dade van vergelding of onderhandelbare politieke voorkeure nie, maar grondwetlike en geskiedkundige noodsaaklikhede.
# Die president van die MK-party, Jacob Zuma, het die party se finansies onder sy persoonlike beheer geplaas en alle amptenare se tekenregte op die bankrekening met onmiddellike ingang opgeskort. Dit volg nadat hy die Strategiese Presidensiële Span ontbind het. Die MK-party se nasionale woordvoerder, Sifiso Mahlangu, sê die vroeëre moratorium op sake rakende die party se finansies, die sekretariaat en kommunikasie, is nou dadelik opgehef. Hy voeg by alle grondwetlike en administratiewe funksies van hierdie kantore word sonder versuim hervat:
# Die GOOD-party beskryf Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se interregeringsgeskil met die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia. as ‘n politieke foefie. Dit volg nadat die nasionale regering geweier het om Kaapstad se metropolisie-beamptes ondersoekmagte te gee. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê geskille met die regering gaan nie die basiese oorsake van bendebedrywighede regstel nie. Volgens hom is ruimtelike hervorming, gemeenskapsruimtes wat goed onderhou word, en belegging in die Kaapse Vlakte nodig:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê sy land se weermag gaan nie sy huidige posisies in Gaza opgee voor Hamas heeltemal ontwapen is nie. Dit kom te midde van meningsverskille oor ʼn voorstel van president Donald Trump van Amerika se Vredesraad dat Hamas volgens ʼn skietstilstandooreenkoms ontwapen word en Israel uit Gaza onttrek. Israel se weermag beset tans sowat 70-persent van die Gaza-strook. Netanyahu sê Israelse magte sal voortgaan om te doen wat nodig is om hulleself, die land se grondgebied en landsburgers te beskerm.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Jayden Schaper, die opkomende ster Casey Jarvis en nog ‘n Suid-Afrikaner, Dean Burmester, het almal ingeskryf vir die tiende Mauritius-ope in Desember. Die gewese kampioen, Antoine Rozner van Frankryk, sal ook meeding om die prysgeld van 25-miljoen-rand. Schaper en Jarvis is albei op koers om volgende jaar hulle PGA-toerkaarte te ontvang en sal in Mauritius opdaag as die volgende geslag jong internasionale sterre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-45-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-139-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….