Nuus 06:00
BULLETIN 5 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal nie die boumafia duld nie
# AfriForum herhaal dat onteiening sonder vergoeding ongrondwetlik is
# En rugby: Die Stormers kry hul inspirasie van die Westelike Provinsie wat die All Blacks in 1976 geklop het
# President Cyril Ramaphosa sê die regering doen stappe om die sogenaamde boumafia uit te roei, wat boupersele en nuwe infrastruktuurprojekte ontwrig. Die land se boubedryf skat dat 180 openbare infrastruktuurprojekte ter waarde van 63-miljard-rand vertraag is as gevolg van afpersing, intimidasie of geweld voordat daar ingegryp is. Ramaphosa het gister tydens die opening van die King Nyabela-hospitaal in Mpumalanga gesê dade van intimidasie en geweld sal nie geduld word by die bou van openbare infrastruktuur nie:
# Die raad van die Openbare Beleggingskorporasie het sy uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, in sy posisie heraangestel, en daarmee sy voorsorgskorsing beëindig. Dlamini is vroeër vanjaar op verlof geplaas terwyl bewerings teen hom ondersoek is. Die raad sê ‘n onafhanklike ondersoek het geen bewyse van wangedrag gevind wat dissiplinêre stappe regverdig nie. Dlamini sal met onmiddellike ingang sy pligte hervat. Die OBK bestuur bates van meer as drie-duisend-miljard-rand, hoofsaaklik vir die staatsamptenare se pensioenfonds, wat hom Afrika se grootste batebestuurder maak.
# AfriForum het in die Hooggeregshof in die Wes-Kaap getuig onteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik terwyl hulle voortgaan met die regsgeding teen die Onteieningswet. Die burgerregte-organisasie voer aan sleutelbepalings van die wet skend die Grondwet en moet geskrap of gewysig word. Ernst van Zyl van AfriForum sê hulle sal aanhou veg om eiendomsregte te beskerm. Die saak duur tot Vrydag voort:
# Die EFF in Gauteng het Wonderful Segolodi as hul burgemeesterskandidaat vir Mogale City aangekondig in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die provinsiale voorsitter, Nkululeko Dunga sê Segolodi, ‘n gemeenskapsleier wat in Kagiso gebore is, het meer as ‘n dekade se ondervinding in munisipale bestuur en gemeenskapsontwikkeling. Segolodi se rekord sluit in inisiatiewe rondom kwesbare gemeenskappe, onderwys en bewustheid van geslagsgeweld. Dunga het inwoners versoek om Segolodi te steun en het verbeterde dienslewering en verantwoordbare plaaslike regering belowe.
# Katar se ministerie van Buitelandse Sake sê pogings om ‘n diplomatieke oplossing tussen die VSA en Iran te bereik duur voort, maar geen regstreekse onderhandelinge tussen die twee lande is geskeduleer nie. Daar was teenstrydige verklarings van beide Washington en Teheran oor die hervatting van gesprekke. Die ministerie se woordvoerder, Majed al-Ansari, sê bemiddelaars koördineer nou om onderhandelinge te bewerkstellig en konsepte van ‘n moontlike ooreenkoms tussen beide lande uit te ruil. Hy sê ‘n korttermynoplossing is om die weg te baan vir die hervatting van dialoog:
# Rugby: Die Stormers word geïnspireer deur Westelike Provinsie se span van 1976 wanneer hulle Vrydag in Kaapstad teen die All Blacks speel in die eerste toerwedstryd. Dis 50 jaar sedert die tuisspan laas teen Nieu-Seeland gespeel het, en 12-11 gewen het op Nuweland. Hulpafrigter Rito Hlungwani sê die huidige spelers het ’n voorlegging oor 1976 gesien en beskou dit as motivering vir ‘n verwagte reuse-uitdaging op die Kaapstad-stadion. Die ervare Deon Fourie sê hulle besef watter voorreg dit is om weer teen die toerspan te staan te kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-195-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-79-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….