Nuus 09:00
BULLETIN 5 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag die hoofrede by die Mynbou-indaba
# Meer as 33-duisend mense besoek Binnelandse Sake se kantore tydens die afgelope kieserregistrasie-naweek
# En, die Suid-Afrikaner Tyla wen ‘n Grammy met haar groot treffer Water
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag die hoofrede by die Mynbou Indaba wat in Kaapstad begin. Vanjaar se tema kyk na die krag van positiewe ontwrigting om ‘n nuwe toekoms vir Afrika-mynbou te verseker. Die presidensie sê Ramaphosa se deelname aan die Indaba onderstreep die belangrikheid van samewerking en volhoubare ontwikkeling in die mynbousektor en voeg by sy insigte sal bydra tot gesprekke oor die blootlegging van geleenthede, en die aanspreek van uitdagings in die bedryf.
# Die Departement van Binnelandse Sake sê hy het meer as 33-duisend-500 mense by sy kantore en 105 mobiele eenhede gehelp tydens die laaste kieserregistrasie-naweek. Die publiek se oorweldigende reaksie het vier kantore van Binnelandse Sake in Gauteng en talle in ander provinsies genoop om tot na vyf oop te bly. Die departement se woordvoerder, Siya Qoza, sê byna 23-duisend-400 mense het oor dié twee dae hulle ID’s kom afhaal terwyl nog nege-duisend-100 vir ID’s aansoek gedoen het – die meeste van hulle vir die eerste keer:
# ‘n Noodtoestand is in Chili afgekondig terwyl minstens 99 mense dood is in bosbrande in die Viña del Mar– en Valparaiso-streke. Sowat 200 mense word vermis. Volgens die nasionale rampvoorkoming- en reaksiediens, is daar 161 aktiewe brande wat landwyd woed. Ongeveer agt-duisend hektaar woude en stedelike gebiede het reeds afgebrand. Valparaiso se goewerneur, Rodrigo Mundaca, sê sommige brande is moontlik doelbewus gestig. Dis vermoedelik Chili se dodelikste bosbrand tot op hede.
# Gholf: Die laaste ronde van die Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië vind vandag plaas nadat spel gister gestaak is weens swaar weer en kommer oor veiligheid. Die Amerikaanse Ope-kampioen, Wyndham Clark van Amerika, is die voorloper en een hou voor Ludvig Åberg van Switserland. Die wenner van verlede week se Farmers Insurance Ope, die Fransman Matthieu Pavon, is twee houe agter die voorloper en in die derde plek. Dis die derde keer in ses jaar dat die toernooi ʼn vyfde dag nodig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-747-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer, Tyla, het haar eerste Grammy-toekenning ooit gewen. Die 22-jarige het mense soos Burna Boy en Davido geklop om in die nuwe kategorie, Beste Afrika-musiekuitvoering te wen, met haar groot treffer Water. Die amapiano-popliedjie was verlede jaar op die Billboard Hot 100-trefferlys, die eerste Suid-Afrikaanse solokunstenaar wat dit kon regkry, sedert Hugh Masekela in 1968. Die liedjie was ook eerste op die toonaangewende Amerikaanse Billboard Afrobeats Songs- en die Billboard Hip-Hop/R&B-trefferlyste. Tyla sê sy kan nie glo sy het gewen nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….