Nuus 15:00
BULLETIN 4 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ballistiese ontleder van die polisie is vrygespreek op twee interne aanklagte en skuldig bevind op twee ander
# Die Tshuma-gesin wat in Brittanje vermoor is, word in Zimbabwe ter ruste gelê
# En rugby: Die All Blacks beskou die openingswedstryd teen die Stormers as ‘n volwaardige toets
# ‘n Tugkomitee van die polisie het die senior forensiese ballistiese ontleder Laurence Makgotloe skuldig bevind op twee aanklagte wat verband hou met die ondersoek na die moord op Armand Swart. Die ingenieur is in April 2024 in Gauteng vermoor. Die SABC berig Makgotloe is skuldig bevind aan oneerlikheid oor onder meer ‘n gewysigde ballistiese verslag en ‘n verandering aan regstellings-datums. Hy is op twee ander aanklagte onskuldig bevind. Makgotloe is vir ‘n maand sonder betaling geskors terwyl sy afsonderlike strafsaak in die Landdroshof in Pretoria voortduur.
# Die Motorbedryfpersoneelvereniging bevraagteken of die Nasionale Raad vir Geslagsgeweld en Vrouemoord betekenisvolle verandering sal teweegbring. Die statutêre liggaam het die mandaat om strategiese leierskap te bied wat geslagsgeweld sal uitwis. Die raad is ook verantwoordelik om samewerking tussen verskillende sektore te bevorder in die uitvoering van die nasionale strategie teen geslagsgeweld en vrouemoord. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê die vereniging is bekommerd omdat georganiseerde arbeid nie verteenwoordig word nie:
# Die mynwerkersvakbond N-U-M is bekommerd oor president Cyril Ramaphosa se goedkeuring van die eerste fase in die verslag oor Eskom se taakspan vir herstrukturering. Woordvoerder Khangela Baloyi sê hulle is gekant teen planne om ‘n onafhanklike transmissiestelsel-operateur te vestig en waarsku dit kan werksgeleenthede bedreig, openbare eienaarskap verswak en privaat sektor-invloed vergroot. Baloyi sê die regering moet eers Eskom se munisipale skulduitdagings oplos en georganiseerde arbeid raadpleeg voor hervormings ingestel word:
# ‘n Zimbabwiese vrou en haar twee dogters wat verlede maand in Brittanje vermoor is, word vandag in Bulawayo ter ruste gelê. Die liggame van Nothabo, Natalie en Nala Tshuma is in hul huis in Bedfordshire, Engeland, gevind. ‘n Lykskouing het bevind hulle is dood weens stomp geweld. Tshuma se man, Ndodana, is later in Johannesburg in hegtenis geneem nadat Britse owerhede sy uitlewering versoek het. Hy bly in aanhouding terwyl uitleweringsverrigtinge voortduur, met ‘n Suid-Afrikaanse aanklag ook teen hom.
# Rugby: Die All Blacks beskou Vrydag se eerste toerwedstryd teen die Stormers in Kaapstad as ‘n regte toets. Dit sal die eerste van vier wedstryde teen Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-spanne wees – die ander is in Durban teen die Haaie, in Pretoria teen die Bulle en in Johannesburg teen die Leeus. Nieu-Seeland en die Springbokke speel ook drie toetse in Suid-Afrika en ‘n vierde in Amerika. Agsteman Wallace Sititi beskou die Stormers se pak voorspelers as ‘n reuse-bedreiging wat hulle moet respekteer. Afskop is die aand sewe-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-721-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….