Nuus 13:00
BULLETIN 4 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se energiebeskikbaarheidsvlak bereik die hoogste punt sedert 2017
# Sokker: Infantino is onder reusedruk na ‘n mislukte plan
# En die Verkiesingskommissie stel ‘n WhatsApp-diens vir kieserregistrasie bekend
# Eskom het 441 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag bereik – sy beste prestasie in ‘n dekade. Die kragvoorsiener het ook sy hoogste energiebeskikbaarheidsvlak sedert 2017 aangeteken, onbeplande onderbrekings is tot die laagste punt in agt-jaar verminder en dieselverbruik is twee agtereenvolgende weke tot nul verminder. Die energiekenner Chris Yelland sê nuwe opwekkingsvermoë vanuit hernubare energie het ‘n beduidende rol gespeel in die vermindering van beurtkrag, tesame met Eskom se verbeterde prestasie, laer elektrisiteitsvraag en die regering se finansiële steun.
# Die vakverbond Cosatu sê hy is teleurgesteld oor president Cyril Ramaphosa se aanstelling van die Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord ná aanbevelings van die Parlement. Die raad bestaan uit sewe lede, insluitend akademici, ‘n geslagsaktivis, ʼn kliniese sielkundige en ʼn maatskaplike werker. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê daar is geen verteenwoordigers uit byvoorbeeld die arbeid- en sakesektor nie. Hy sê geslagsgeweld is nie bloot ʼn akademiese bespreking nie:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal het ʼn gedeeltelike aflewering van dialise-verbruiksartikels ontvang. Die DA beweer die hospitaal het geen natriumbikarbonaat-oplossings nie, wat ʼn noodsaaklike komponent van daaglikse dialise-behandelings is. Die hospitaal is nou verplig om noodvoorrade by die Helen Joseph Hospitaal te leen. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die gedeeltelike aanvulling beskerm voorraadvlakke sodat noodsaaklike nierbehandeling en dialise-dienste sonder onderbreking kan voortgaan:
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, se mislukte plan om ‘n Wêreldbeker-belang aan private beleggers te verkoop, het hom onder geweldige druk geplaas om sy posisie te behou. Die beheerliggame van Europa en Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese Eilande, UEFA en Concacaf, se aankondigings dat hulle vertroue in sy leierskap verloor het, is gevolg deur UEFA se oorweging van regstappe. Wallis het sy steun vir Infantino se herverkiesingspoging onttrek, terwyl Engeland na verwagting sal volg. Die volgende presidentsverkiesing is in Maart volgende jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-50-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verkiesingskommissie het ʼn WhatsApp-kieserregistrasiediens bekendgestel om dit makliker te maak vir kwalifiserende landsburgers om te registreer vir November se plaaslike regerings-verkiesing. Meer as 1,7-miljoen mense het die OVK gekontak tydens verlede naweek se kieserregistrasienaweek. Vrydag is die sperdatum vir registrasie. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die WhatsApp-platform laat gebruikers toe om deur veilige identiteits-bevestiging te registreer of hul besonderhede by te werk om die kiesersrol se integriteit te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….