Nuus 11:00
BULLETIN 4 August 11 vm/nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê Nersa se bykomende rapporteringsvereistes vir sukkelende munisipaliteite is tydmors
# ‘n Landwye polisie-optrede lei tot byna 16-duisend inhegtenisnemings en beslaglegging op onwettige vuurwapens
# En sokker: Banyana Banyana weet wat op die spel is teen Burkina Faso
# AfriForum vra die Nasionale Energiereguleerder om sy plan oor belangrike prestasie-aanwysers te laat vaar. Hy sê dit sal nie die kragverspreidingskrisis in sukkelende munisipaliteite oplos nie. Dis daarop gemik om tegniese bestuur en bedryfsaspekte van munisipale elektrisiteit-verspreidingsnetwerke te hanteer, wat tot groter doeltreffendheid in die lewering van elektrisiteits-dienste moet lei. Morné Mostert van AfriForum sê die instelling van bykomende vereistes vir sukkelende munisipaliteite sal nutteloos wees:
# Die polisie het die afgelope week byna 16-duisend verdagtes aangekeer tydens landwye Operasie Shanela-optredes. Dit het 329 vermeende dwelmhandelaars ingesluit, terwyl kokaïen van ‘n geraamde 28-miljoen-rand op die OR Tambo-lughawe in Gauteng afgeneem is nadat dit op ‘n vlug uit Brasilië aangekom het. Woordvoerder Amanda van Wyk sê die optrede is daarop gemik om georganiseerde misdaad en dwelmhandel te ontwrig en openbare veiligheid te verbeter:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om bewerings van wanadministrasie en onregmatige gedrag te ondersoek. Dit het betrekking op nege tenders wat verband hou met die Mangaungse metropolisie in die Vrystaat. Die ondersoek sal ook die oorbetaling van verskaffers insluit soos vervat in die munisipaliteit se jaarlikse finansiële state tot einde Junie 2024. Die ondersoekeenheid het ook magtiging gekry om die Gautengse Gesondheidsdepartement se tender vir vrywillige mediese besnyding te ondersoek om vas te stel of verkrygingsprosesse gevolg is.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê Iran het een laaste kans om ʼn goeie ooreenkoms te onderteken en ʼn toename in aanvalle te vermy. Hy het die vyfde keer sedert April moontlike aanvalle op Teheran uitgestel terwyl onderhandelaars weereens probeer om ʼn ooreenkoms te bereik om die Seestraat van Hormoes te heropen en Iran se kernprogram te bekamp. Trump het herhaal dat hy geduld verloor met Iran se leierskap:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle is deeglik bewus wat op die spel is voor vanaand se wedstryd teen Burkina Faso in die Afrikabekertoernooi vir vroue. Suid-Afrika is onderaan die punteleer in Groep B met slegs een punt na twee wedstryde. Hulle moet Burkina Faso klop en hoop Ivoorkus reken met Tanzanië af sodat hulle die kwarteindronde kan haal. Ellis sê hulle het genoeg ervare spelers om die span oor die hekkie te kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-595-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-65-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….