Nuus 16:00
BULLETIN 3 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kieserslys oorskry 29-miljoen ná ‘n suksesvolle registrasienaweek
# Die petrolprys daal te midde van ‘n brandstofprysaanpassing
# En rugby: Talle kaartjies is steeds beskikbaar vir die All Blacks se wedstryde teen Suid-Afrikaanse spanne
# Die Verkiesingskommissie sê die kieserslys het tot meer as 29-miljoen gegroei in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Byna twee-miljoen kieserregistrasies is tydens die laaste registrasienaweek aangeteken, insluitend bykans 292-duisend nuwe registrasies. KwaZulu-Natal het die hoogste deelname aangeteken, gevolg deur Gauteng en die Oos-Kaap. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê meer as 750-duisend nuwe kiesers is tydens die twee registrasie-naweke bygevoeg:
# Forum for South Africa verwelkom leefstyloudits by die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie soos aangekondig deur die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi. Leier Tebogo Mashilompane sê openbare vertroue in wetstoepassings- en aanklaer-agentskappe is ernstig geskaad deur bewerings van korrupsie, politieke inmenging en die stadige vervolging van hoëprofiel-korrupsiesake. Hy sê leefstyloudits sal help verseker dat diegene wat met die stryd teen korrupsie toevertrou is, self onberispelik is:
# Motoriste sal vanaf Woensdag minder betaal vir petrol, maar meer vir diesel wanneer die brandstofprysaanpassings vir Augustus in werking tree. Petrolpryse daal met 52-sent-per-liter, terwyl dieselpryse met tussen een-rand-23 en een-rand-38-sent per liter styg. Lampolie styg met een-rand 52-sent-per-liter, terwyl vloeibare gas goedkoper word. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne sê die daling in die petrolprys is as gevolg van swakker internasionale petrolpryse, terwyl dieselpryse gestyg het weens wêreldwye voorraadtekorte en druk op raffinaderye.
# Rugby: Hoë pryse word beskou as ‘n moontlike rede waarom kaartjieverkope vir die All Blacks se toerwedstryde traag is. Pryse begin by 650-rand vir Vrydag se wedstryd teen die Stormers in Kaapstad, en wissel vir die wedstryde teen die Haaie in Durban, die Bulle op Loftus en die Leeus op Ellispark. Kaartjies is ook steeds beskikbaar vir die derde toets teen die Springbokke op die FNB-stadion in Johannesburg, wat wissel van een-duisend-650- tot vier-duisend-rand. SA Rugby het glo erken dat verkope vir die toerwedstryde van middelmagtig tot swak is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-565-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-53-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Navorsing deur die Universiteit Stellenbosch beklemtoon ‘n dringende behoefte aan verslawingsbehandeling vir vroue. Baie vroue worstel teen hindernisse wat hul toegang tot sorg beperk. ‘n Navorser, Danyschka Jacobs, sê stigma, armoede, trauma, kinderversorgings-verantwoordelikhede en vrees om hul kinders te verloor, verhoed vroue dikwels om hulp te soek. Sy sê behandelingsgeriewe bly beperk en van die bestaande programme is onvoldoende. Jacobs vra staatsbefondsing en trauma-ingeligte dienste wat fokus op vroue se behoeftes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….