Nuus 08:00
BULLETIN 5 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nuwe opname toon die ANC se gewildheid daal en kiesers is geïnteresseerd in die Veelpartyhandves
# Die Parlement se voorsittende beamptes bring hulde aan Namibië se president Hage Geingob
# En krieket, die Sunrisers Eastern Cape is nou boaan die SA20-punteleer ná ‘n oorwinning oor die Paarl Royals
# ‘n Nuwe opname toon die ANC se gewildheid taan en indien die verkiesing môre sou plaasvind, sal die party slegs 39-persent van die stemme kry. Die opname is deur professor David Everatt van die Universiteit van die Witwatersrand gedoen en daar is met nege-duisend mense onderhoude gevoer. Die opname het ook bevind kiesers is geïnteresseerd in die Veelpartyhandves, wat uit elf partye bestaan wat ná die verkiesing ʼn koalisie wil vorm. Everatt sê werksgeleenthede is boaan kiesers se lys prioriteite, gevolg deur lewenskoste, misdaad, armoede en beurtkrag.
# Die DA-leier Johan Steenhuisen sê sy party, saam met sy vennote in die burgerlike samelewing, het die eerste stryd in hulle voortslepende oorlog teen die ANC se rassekwota-wetgewing gewen. Steenhuisen sê die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, is gedwing om hersiene konsep-regulasies vir die instelling van die Wysigingswet op Diensbillikheid, beter bekend as die Wet op Rassekwotas, te publiseer. Die wet is verlede jaar deur president Cyril Ramaphosa onderteken:
# Polisie in Gauteng het ʼn 57-jarige man in hegtenis geneem wat volgens berigte ingemeng het by ’n motor-konvooi van ʼn buitelandse hooggeplaaste wat gister op pad was na die Lanseria Internasionale Lughawe. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê verkeersbeamptes en polisielede wat die hooggeplaaste vergesel het, het die man gewaarsku om weg te bly van die konvooi, maar hy het volgens berigte die waarskuwingstekens geïgnoreer. Sy sê die man het probeer om by die motor-konvooi in te kom en met sy derde poging het die polisie hom afgetrek en gearresteer:
# Die parlement se voorsittende beamptes het hulle hartseer uitgespreek ná die dood van die Namibiese president, Hage Geingob. Hulle het hom beskryf as ʼn uitstekende revolusionêr en toegewyde staatsman. Die 82-jarige Geingob wat kankerbehandeling ontvang het, is gister in ʼn Windhoekse hospitaal dood. Die voorsittende beamptes sê hulle is diep dankbaar vir Geingob se blywende nalatenskap. Hulle sê hy het ʼn belangrike rol gespeel om Namibië se bevryding te verseker en ook ʼn groot bydrae gelewer om Suid-Afrika van apartheid te bevry.
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het die Paarl Royals in Gqeberha met vyf paaltjies verslaan en is ná die eerste rondomtalie-ronde boaan die SA20-punteleer. Joseph Buttler het met 38 die meeste lopies aangeteken en die Royals het in hulle 20 boulbeurte 159 vir sewe op die telbord geplaas. In antwoord daarop het Temba Bavuma ʼn vennootskap van 63-lopies met kaptein Aiden Markram gedeel en Patrick Kruger was onoorwonne op 25 na sewe aflewerings om die Sunrisers se oorwinning te verseker. Kruger sê hulle geniet dit om as ʼn span wedstryde te jaag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-570-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….