Nuus 13:00
BULLETIN 3 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die winter-inlywingsterftes styg tot 48
# Burnham beloof om die aantal mense te beperk wat in klein bote na Brittanje kom
# En rugby: ‘n Voormalige Bok-losskakel gaan na verwagting by die Bulle se afrigtingspan aansluit
# Die dodetal in die huidige winter-inlywingseisoen het tot 48 gestyg, met 18 sterftes in Mpumalanga en 14 in die Oos-Kaap. Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Burns-Ncamashe, sê die owerhede is ook bekommerd oor die toenemende aantal sterftes in Noordwes, berigte van inlywings-verwante ontvoerings in Gauteng en die toenemende getal onwettige inlywingskole in die Vrystaat. Hy sê elke inlywings-verwante sterfte is onaanvaarbaar en vra strenger handhawing om diegene te beskerm wat die skole bywoon.
# Die Gautengse polisie ondersoek twee afsonderlike noodlottige skietvoorvalle in die De Deur-polisiegebied in die Sedibeng-omgewing. Vier mans is gister in ‘n taverne in Thulamtwana doodgeskiet en ‘n vrou is gewond en hospitaal toe geneem. Twee mans is in ‘n afsonderlike voorval in Weilersfarm doodgeskiet. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê niemand is in hegtenis geneem nie en die motiewe vir die aanvalle word ondersoek.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement vra ouers en voogde om die skoolgebaseerde inentingsveldtog teen die menslike papilloom-virus te ondersteun deur toestemmingsvorms te onderteken en terug te stuur. Die veldtog teiken negejarige meisies in graad 5, 6 en 7. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die MPV is ʼn algemene virus wat seuns en meisies kan besmet en later in vroue se lewe servikskanker kan veroorsaak. Hy sê die entstof is veilig en doeltreffend:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, sê sy regering gaan meedoënloos optree om kleinboot-oorgange oor die Engelse Kanaal te beperk. Voorlopige syfers dui aan 14-duisend-526 mense het tot dusver vanjaar die land so binnegekom. Meer as twee-duisend mense het die kanaal in klein bote oorgesteek sedert Burnham eerste minister geword het. Hy sê sy regering verander die algehele benadering, en verdubbel die aantal wetstoepassers wat mense-smokkelaars weerskante van die kanaal teiken:
# Rugby: ‘n Voormalige Springbok-losskakel gaan na verwagting binnekort as die Bulle se skopafrigter aangewys word. Die 58-jarige Vlok Cilliers, wat in 1996 een toets vir Suid-Afrika teen die All Blacks gespeel het, het onlangs van Frankryk teruggekeer, waar hy dieselfde rol vir die nasionale span vervul het. Hy was ook die Bulle se skopafrigter tussen 2004 en 2014 en het die Pretoriase span gehelp om drie Superrugby- en drie Curriebeker-titels te wen. Hy het toe by die Stormers aangesluit voordat hy in 2019 deel van Frankryk se afrigtingspan geword het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-550-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-52-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….