Nuus 12:00
BULLETIN 3 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Winter-inlywingsterftes styg tot 48
# OPUL-plus gaan volgende maand olieproduksie verhoog om die wêreldmark te ondersteun
# En rugby: Die All Blacks se plaasvervanger-kaptein sê die wedstryde teen die Springbokke is die grootste uitdaging
# Die dodetal in die huidige winter-inlywingseisoen het tot 48 gestyg, met 18 sterftes in Mpumalanga en 14 in die Oos-Kaap. Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Burns-Ncamashe, sê die owerhede is ook bekommerd oor die toenemende aantal sterftes in Noordwes, berigte van inlywings-verwante ontvoerings in Gauteng en die toenemende getal onwettige inlywingskole in die Vrystaat. Hy sê elke inlywings-verwante sterfte is onaanvaarbaar en vra strenger handhawing om diegene te beskerm wat die skole bywoon.
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ondersoek berigte van sardyne wat vrek langs die Wes-Kaapse kus, vanaf Saldanhabaai tot by Gansbaai. Wetenskaplikes het monsters vir toetsing versamel en waarnemers ontplooi om die omvang te bepaal. ‘n Skadelike algebloei is in Saldanhabaai opgespoor, maar geen oorsaak vir die vrektes is bevestig nie. Woordvoerder Zolile Nqayi versoek mense om nie dooie visse te versamel, te hanteer of te eet nie tot die ondersoek voltooi is.
Nuus uit die buiteland:
# Die sewe lidlande van die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande en sy bondgenote, bekend as OPUL-plus, het ooreengekom om olieproduksie volgende maand te verhoog. Dit is weens die voortslepende ontwrigting in die Seestraat van Hormoes waardeur sowat 20-miljoen vate olie vervoer is voor die oorlog tussen Amerika en Iran uitgebreek het. Die olieproduserende groep sal die daaglikse hoeveelheid met nog 188-duisend vate verhoog – die sesde agtereenvolgende ooreenkoms om produksie te verhoog sedert die oorlog begin het. OPUL-plus sê dit weerspieël sy gesamentlike verbintenis om bestendigheid in die wêreldwye oliemark te ondersteun.
# Rugby: Nieu-Seeland se plaasvervanger-kaptein, Codie Taylor, sê hulle het geen illusies oor die uitdaging om die wêreldkampioen-Springbokke tuis aan te pak nie. Hy voer die span aan tot die gereelde kaptein, Ardie Savea, by die groep aansluit voor die eerste toets op Elllispark die 22ste. Die All Blacks se toer van agt wedstryde skop Vrydag amptelik af teen die Stormers in Kaapstad. Taylor sê hulle is gereed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-303-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-57-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Gesondheid sê tydens Wêreld-borsvoedweek slegs 22-persent babas in Suid-Afrika word die eerste ses maande van hul lewe uitsluitlik geborsvoed. Dis aansienlik minder as die Wêreld-gesondheidsvergadering se teiken van 60-persent teen 2030. Foster Mohale van die departement sê dit gaan nie net oor die land en wêreld se teikens nie, maar oor babas se gesondheid en ontwikkeling, asook ma’s se welstand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….