Nuus 07:00
BULLETIN 3 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê hulle is gereed om die Onteieningswet in die hof te betwis
# Twee is dood toe brandbestrydingshelikopters in Griekeland bots
# En rugby: Erasmus sê voorbereidings vir die kragmetings teen Argentinië en die All Blacks is op koers
# AfriForum sê die instelling van die Onteieningswet in sy huidige vorm sal verreikende gevolge hê, daarom moet dit ongrondwetlik verklaar word. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor na verwagting vandag ‘n aansoek aan om dele van die wet uit te daag. AfriForum, die DA en die Instituut vir Rasseverhoudinge eis dat sekere dele van die wetgewing geskrap word. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê die enigste mense wat gaan baat by hierdie wetgewing, is ʼn klein politieke elite:
# Die minister van Landbou, Willie Aucamp, sê hy gaan die Nywerheidskoördineringsraad se opdrag uitbrei om groter klem te plaas op die uitrol en praktiese instelling van die plan teen bek-en-klouseer. Hy sê daar sal spesifieke verwysing wees na boere wat nou toegelaat word om hul eie diere in te ent. Die raad is saamgestel om die nasionale instelling van die Bek-en-klouseer-strategie te ondersteun. Dit sluit in entstofverspreiding, naspoorbaarheid en siektebeheer. Tot op hede is 17-miljoen entstofdosisse na Suid-Afrika ingevoer om die nasionale strategie te ondersteun.
# Die Activists and Citizens Forum oorweeg dit om strafregtelike klagte van intimidasie teen Paul O’Sullivan in te dien. Dit volg na getuienis voor die Madlanga-kommissie deur die senior ondersoeker van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Mantsha Raphesu, waarin beweer word dat O’Sullivan in Januarie 2025 ‘n e-pos gestuur het aan Dineo Mokwele, die adjunk- nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya, en die minister van Polisie Senzo Mchunu. Forumwoordvoerder Dennis Bloem sê in daardie e-pos het O’Sullivan geëis dat Mokwele moet bedank en al die geld wat sy uit haar onwettige aanstelling ontvang het, moet terugbetaal:
# Twee helikopters wat brande noordwes van Athene in Griekeland bestry het, het in die lug gebots. Twee bemanningslede, ʼn Deense vlieënier en Griekse brandweer-skakelbeampte, is in die voorval dood. ʼn Britse vlieënier en Griekse bemanningslid het die botsing oorleef. Personeel van verskeie Europese nasies staan Griekeland, Frankryk, Spanje en Portugal by terwyl veldbrande sedert middel-Julie in dié lande woed. Honderde duisende mense moes hul huise ontruim. Die Griekse eerste minister, Kyriakos Mitsotakis, sê die regering het meer as ooit belê in hulpbronne om die veldbrande te takel.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle voorbereiding vir Saterdag se eenmalige toets teen Argentinië en die Rugby’s Greatest Rivalry-toetse teen Nieu-Seeland is op koers. ʼn Groep van 26 het gisteroggend in Buenos Aires aangekom en hervat vandag hul voorbereiding op die veld. Spelers soos kaptein Siya Kolisi, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Eben Etzebeth en Lood de Jager, wat almal wedstryd-tyd nodig het, is by die groep ingesluit. Erasmus sê hulle sien uit na die uitdaging om weer teen die Pumas kragte te meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-163-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hy het verlede maand lae reënval in die Wes-Kaap aangeteken. Weervoorspeller, Samkelisiwe Thwala, sê ondernormale reënval is in Junie aangeteken en het tot Julie voortgeduur, met verskeie dele van die streek wat hul laagste reënval ooit gedurende Julie aangeteken het. Sy sê voorlopige reënvaldata dui daarop dat die Kaapstad Internasionale Lughawe sy laagste reënval in Julie sedert 1958 aangeteken het, met slegs 14,4-millimeter vir die maand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….