Nuus 13:00
BULLETIN 2 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Christelike Forum vra minister Kubayi om ‘n onwrikbare grondslag vir die regstelsel te bou
# Minister Chikunga doen ‘n beroep op vroue om eienaarskap te vat van ekonomiese geleenthede
# En rugby: ‘n Wedstryd word gestaak nadat ‘n bakleiery by ‘n skoolrugby-kragmeting uitbreek
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum doen ‘n beroep op die minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, om ‘n onwankelbare grondslag vir die regstelsel in die land te bou. Dit volg na die skorsing van senior ondersoekers by die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Dylan Perumal, Brian Padayachee en Suneel Bellochun, op grond van bewerings oor die verdraaing van getuieverklarings, saakbeïnvloeding en magsmisbruik. Die leier van die forum, Marothi Mashashane, sê as sistemiese korrupsie in geregtigheidsgeledere ongemerk gelaat word, is die integriteit van die hele nasie in gedrang:
# Die minister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede in die Presidensie, Sindisiwe Chikunga, het Suid-Afrikaanse vroue gevra om op te staan, eienaarskap van ekonomiese geleenthede te neem en tot nasionale ontwikkeling by te dra. Sy sê baie vroulike entrepreneurs werk in informele of kleinskaalse markte en sukkel om oor te skakel na volhoubare, kommersieel lewensvatbare ondernemings. Die minister sê daar is ‘n voortdurende gaping tussen vroue-ondernemings en groot korporasies, regeringsverkrygingstelsels en hoofstroommarkte:
# Die Algemene Nywerheidswerkersvakbond van Suid-Afrika eis die staatsgeleide herindustrialisering van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Statistiek Suid-Afrika het aangekondig dat 245 besighede in die tweede kwartaal van hierdie jaar gesluit het. Giwusa-president Mametlwe Sebei sê die syfers verteenwoordig ‘n direkte en verwoestende aanval op die lewensbestaan van die werkersklas. Hy sê die feit dat die ekonomie een-duisend-361 besighede in die eerste helfte van 2026 verloor het, behoort ‘n wekroep vir die regering van nasionale eenheid te wees:
# Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap het ‘n mylpaal-memorandum van verstandhouding met die Belt and Road Initiative Algemene Kamer van Koophandel vir Suider-Afrika onderteken om ekonomiese geleenthede, entrepreneurskap en volhoubare werksgeleenthede vir jong Suid-Afrikaners uit te brei. Die agentskap sê die twee partye het, gegrond op die Belt and Road-projek en die BRICS-samewerkingsmeganisme, ‘n omvattende strategiese samewerkingsooreenkoms bereik. Die agentskap sê die vennootskap sal in die toekoms fokus op die verdieping van samewerking op verskeie gebiede, insluitend ekonomiese en handelsuitruilings tussen Suid-Afrikaanse en Chinese jeug, doelgerigte nywerheidsprojekte en die bemagtiging van jong entrepreneurs.
# Die bekende Brits-Nepalese bergklimmer, Nirmal Purja, is onder die tien mense wat in ‘n sneeustorting op Broad Peak in Pakistan dood is. Sy maatskappy het met diepe leedwese en geweldige hartseer bevestig dat die 43-jarige Purja in Donderdag se sneeustorting dood is. Purja, wat in Nepal gebore is en later in die Britse leër gedien het, was bekend dat hy die wêreld se 14 hoogste pieke in net meer as ses maande in 2019 uitgeklim het. Die Prins van Wallis het gesê hy is waarlik hartseer om te hoor van die tragiese dood. Hy sê Purja het met onderskeiding gedien as ‘n soldaat, voordat hy een van die grootste bergklimmers geword het.
# En rugby: ‘n Noordvaalbeker-kragmeting tussen Hoërskool Menlopark en Hoërskool Dr. E.G. Jansen is gestaak na ‘n grootskaalse bakleiery tussen skoolseuns en ouers wat op die veld uitgebreek het. Menlopark was met 36-5 voor toe die wedstryd gestaak moes word ná die lelike tonele. Video’s van die voorval het vinnig aanlyn versprei en die volle omvang van die wanorde getoon. Die voorsitter van die Noordvaal Skole-rugbyvereniging, Thinus Diedericks, het bevestig die liggaam is bewus van die voorval en stappe sal gedoen word na ‘n behoorlike ondersoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….