Nuus 11:00
BULLETIN 1 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake verleng sy kantoorure vir die laaste kiesersregistrasie-naweek
# Die DA in Tshwane verwelkom die Hooggeregshofuitspraak oor die onregmatige skorsing van die stadsbestuurder
# En sokker: Die regering prys Banyana Banyana se veggees
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê sy departement het kantoorure hierdie naweek landwyd verleng. Alle kantore sal oop wees vanaf 8-uur soggens tot 5-uur in die middag om te verseker burgers het toegang tot die dienste wat hulle benodig om as kiesers te registreer. Meer as 360-duisend identiteitsdokumente is tans gereed om afgehaal te word by Binnelandse Sake-kantore. Schreiber het burgers wie se dokumente gereed is, insluitend diegene wat nog ‘n slim ID-kaart benodig, aangespoor om gedurende die verlengde ure hul naaste Binnelandse Sake-kantoor te besoek.
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die regering berei voor om die oorskot van Suid-Afrikaners wat tussen 1976 en 1992 in Angola tydens die politieke konflik in die apartheid-era dood is, te repatrieer. Nel het gister in Pretoria gepraat oor die vordering van die Angola-fase in die Suid-Afrikaanse Ballingskap-Repatriasieprojek. Hy sê die projek vloei voort uit die aanbevelings deur die Waarheids- en Versoeningskommissie, wat die regering versoek het om voort te gaan met die opsporing van mense wat tussen 1960 en 1994 weens politieke omstandighede verdwyn het.
# Die DA in Tshwane verwelkom die uitspraak deur die Pretoriase Hooggeregshof wat gelas het die stadsbestuurder, Johan Mettler, moet heraangestel word. Die DA-lid Cilliers Brink sê deur die onregmatige besluit van die ANC-EFF-ActionSA-koalisie om Mettler te skors tersyde te stel, het die hof bevestig politieke meerderheid kan nie die wet ignoreer, raadsprosesse manipuleer of munisipale instellings gebruik om polities verbonde individue te beskerm nie:
# Die regering van die Wes-Kaap het sy eerste ministeriële rondetafel-bespreking oor infrastruktuur gehou, wat regerings-, sake- en bedryfsleiers bymekaarbring om infrastruktuurontwikkeling in die provinsie te versnel. Die LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het ook planne aangekondig om sewe grondgedeeltes vir meer as tien-duisend behuisingsgeleenthede vry te stel en vennootskapsooreenkomste onderteken om infrastruktuurontwikkeling en ekonomiese groei te bevorder:
# Rusland het die hoofstad van Oekraïne, Kiëf, vroeg vanoggend met ballistiese missiele bestook. Minstens nege mense is dood en 28 beseer, insluitend vier kinders. Dit is die tweede groot aanval op Kiëf hierdie week. Brande het op verskeie plekke in die stad uitgebreek, terwyl kragonderbrekings in van die gebiede aangemeld is. Die aanval volg twee dae nadat ‘n vermeende Russiese kruisermissiel tydens ‘n grootskaalse aanval op Oekraïne, in Pole beland het. Ses lede van dieselfde gesin in ‘n dorpie naby Kryvyi Rih was onder die nege sterftes.
# En sokker: Die regering het Banyana Banyana geprys vir hul moed, vasberadenheid en veggees ná hul WAFCON 2026-wedstryd teen die Ivoorkus. Die adjunkwoordvoerder, William Baloyi, sê die span het deursettingsvermoë, moed en onwrikbare toewyding getoon toe hulle teruggeveg het om die telling gelyk te maak. Hy sê Suid-Afrika het ‘n trotse nalatenskap van sportuitnemendheid opgebou en Banyana Banyana se sukses en mededingendheid vorm deel van dié nalatenskap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….