Nuus 17:00
BULLETIN 31 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê die uitgestelde bekendmaking van die AARTO-appèltribunaal ondermyn deursigtigheid
# Dieselpryse kan volgende week met byna twee-rand per liter styg
# En, sokker: Danny Jordaan prys Hugo Broos vir sy nalatenskap te midde van sy uittrede
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, het onderneem om voort te gaan met sy regsgeding teen die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings en sy ondersoek uit te brei om te bepaal of die aanstellings by die Appèltribunaal en die toepassing daarvan aan die wet voldoen. Stefanie Fick van OUTA voer aan belangrike inligting oor die tribunaal moes openbaar gemaak gewees het voor AARTO in werking getree het. Fick sê deursigtigheid is noodsaaklik om motoriste se regte te beskerm:
# ‘n Skerp styging in dieselpryse kan volgende week verwag word weens hoër ruoliepryse en die verswakking van die rand. Die prys van groothandeldiesel sal na verwagting met byna twee-rand per liter styg. News24 berig die situasie rondom petrolpryse is onseker, met die prys van 95-oktaan wat na verwagting grootliks onveranderd sal bly en 93-oktaan wat moontlik ‘n effense daling sal toon. Die finale brandstofprysaanpassings sal deur die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne aangekondig word voor dit Woensdag in werking tree.
# ‘n Senior ondersoeker van die Direktoraat Teen Korrupsie, Mantsha Raphesu, het voor die Madlanga-kommissie getuig ‘n klagte oor bewerings van buitensporige besteding word verbind aan die taakspan vir politieke moorde. Raphesu sê die bewerings sluit in, duur verblyf, wasgoedrekeninge ter waarde van honderde-duisende rand en luukse voertuie wat na bewering deur die geheime diensrekening gekoop is. Hy sê eiendomme en gastehuise is na bewering in Gauteng en KwaZulu-Natal aangekoop:
# Afrika- en wêreldlugvaartorganisasies vra Afrika-lande om gevorderde passasiersinligtings- en passasiersnaam-rekordstelsels in te stel om grensveiligheid te versterk en reis te verbeter. Die Vereniging van Afrika-lugrederye, die Lugrederyvereniging van Suider-Afrika en die Internasionale Lugvervoervereniging sê hierdie stelsels moet voldoen aan internasionale standaarde, terwyl passasiers se persoonlike inligting beskerm word. Hulle sê regerings moet dit befonds en waarsku lugrederye of reisigers moenie die koste dra nie terwyl Afrika daarna streef om veilige en doeltreffende lugverbindings uit te brei.
# Sokker: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, het die uittredende Bafana Bafana-afrigter, Hugo Broos, geprys vir die transformasie van Suid-Afrikaanse sokker gedurende sy termyn. Jordaan het die Belgiese afrigter, wie se vyfjaarkontrak vandag eindig, geprys vir die bou van ‘n mededingende nasionale span en die identifisering van jong talent wat gevestigde internasionale spelers geword het. SAFA se soektog na ‘n nuwe afrigter begin nou:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-665-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-38-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….