Nuus 16:00
BULLETIN 31 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra ‘n onafhanklike teen-korrupsiekommissie
# Fikile Mbalula vra gesinne se hulp om ballinge uit Angola te repatrieer
# En nuus van die Statebondspele: Span SA hoop op nog goud in vanaand se baan- en veldeindrondes
# Die DA sê die regering se voorgestelde hervormings om die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie te versterk, is nie genoeg nie. Die DA-lid Glynnis Breytenbach sê die eenheid se geloofwaardigheid is geskaad deur getuienis voor die Madlanga-kommissie en kan nie deur geringe veranderinge herstel word nie. Sy vra ‘n onafhanklike teen-korrupsiekommissie met grondwetlike beskerming om korrupsie sonder politieke inmenging te ondersoek en te vervolg en openbare vertroue te herstel:
Intussen het ‘n senior ondersoeker van die Ondersoekdirektoraat, Mantsha Raphesu, voor die kommissie getuig ondersoekers is toegang geweier tot die Artikel 27-verwysing wat die Parlementslid Fadiel Adams ingedien het. Hy sê tydens ‘n vorige ondersoek is alle tersaaklike dokumente beskikbaar gestel, maar ondersoekers het dié keer nie die verwysing ontvang nie. Raphesu sê staatsadvokaat Drushanta Ramsamy het hulle ingelig sy is opdrag gegee om nie die dokument te verskaf nie:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, vra gesinne van geliefdes wat tydens die bevrydingstryd in Angola gesterf of verdwyn het om na vore te kom en te registreer vir die regering se repatriasieprogram. Hy het in Pretoria gesê die beste manier om vryheidsvegters te vereer wat hul lewens opgeoffer het, is om die werk waarvoor hulle geveg het te voltooi, insluitend om ‘n nie-rassige en voorspoedige samelewing te bou:
# Die liggame van ‘n Zimbabwiese vrou en haar twee dogters wat in Brittanje vermoor is, sal na verwagting Sondag na Zimbabwe gerepatrieer word voor hulle Dinsdag in Bulawayo begrawe word. Nothabo, Natalie en Nala Tshuma is vroeër die maand dood aangetref in hul huis in Bedfordshire. Tshuba se man, Ndodana, het na Suid-Afrika gevlug maar is in Johannesburg aangekeer. Hy het sy aansoek om borgtog laat vaar in die Johannesburgse Landdroshof en bly in aanhouding op vuurwapen-aanklagte terwyl uitleweringsverrigtinge na Brittanje voortduur.
# Nuus van die Statebondspele: Span Suid-Afrika hoop op nog goud in die eindrondes van drie items op die Scotstoun-stadion in Glasgow vanaand. Die opwindende naelloper Sinesipho Dambile word beskou as gunsteling in die mans-200-meter na ‘n blitsige 19,82-sekondes in die halfeindronde. Douw Smit hoop om die podium te haal in die mans-spiesgooi na ‘n reuse-gooi van 80,64-meter in die kwalifiserende ronde. Die Para-atleet Liezel Gouws ding mee in die vroue-T38-verspring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-672-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-51-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….