Nuus 12:00
BULLETIN 31 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrea Johnson word steeds strafregtelik ondersoek
# Die GOOD-party sê die nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris het ‘n onmoontlike taak
# En krieket: Albie Morkel is Joburg Super Kings se nuwe hoofafrigter
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, sê die gewese hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, word steeds strafregtelik ondersoek al het sy onlangs bedank te midde van haar getuienis voor die Madlanga-kommissie. Een van die bewerings is dat sy wederregtelik die inhoud van ‘n aanranding-dossier teen die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Fazel Khan, met hom gedeel het. Mothibi sê ʼn bedanking beskerm niemand teen strafregtelike aanspreekliheid nie:
# Die GOOD-party sê die nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris, Sizakhele Dyantyi, het ʼn onmoontlike taak geërf om bendebedrywighede te pak in gemeenskappe op wie munisipale en provinsiale owerhede eintlik hul rug gedraai het. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die kultuur van bendes en geweld, veral op die Kaapse Vlakte, bestaan steeds en mense se daaglikse ervaring het nie verander nie. Hy sê die geslagte-lange trauma word nie erken nie:
# Twaalf mense, insluitend vyf kinders, is dood en 60 beseer in ʼn busongeluk op die N1 tussen Trompsburg en Edenburg in die Vrystaat. Die bestuurder van die bus en sleepwa, wat vermoedelik na Zimbabwe op pad was, het skynbaar beheer verloor en dit het omgeslaan. Die Padverkeers-bestuurskorporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê voertuigbestuurders, veral van langafstand- openbare vervoer, moet versigtig wees, padveiligheids-regulasies nakom en seker maak voertuie is padwaardig:
Nuus uit die buiteland:
# Saoedi-Arabië se Ministerie van Buitelandse Sake sê 13 lande steun hul voorstel om ‘n Maritieme Verdedigingsalliansie te stig om internasionale skeepsvaartroetes en internasionale handel te beskerm. Dit volg op die ontwrigting van die Seestraat van Hormoes, wat gewoonlik ongeveer 20-persent van internasionale olie- en gasuitvoere vervoer. Die lande wat die alliansie steun, sluit in Pakistan, Bahrein, Jemen en Soedan. ‘n Gesamentlike verklaring van die lande lui dis uiters belangrik om navigasie-vryheid te beskerm deur die Bab al-Mandeb-seestraat, die Rooi See en die Golf van Aden.
# Krieket: Die veelsydige voormalige Protea-speler, Albie Morkel, is aangestel as Joburg Super Kings se nuwe hoofafrigter vir die komende SA20-seisoen nadat Stephen Fleming vroeër die maand bedank het. Die 45-jarige Morkel was vier jaar lank die hulpafrigter. Hy sê hy sien daarna uit om voort te bou op die sterk grondslag wat hulle reeds geskep het, en die span te help om sy volle potensiaal te bereik. Die vyfde SA20 begin op 17 Januarie en JSK skop sy veldtog die volgende dag af teen Paarl Royals.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-62-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….