Nuus 11:00
BULLETIN 31 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa steun die fase een-verslag oor die vestiging van ‘n onafhanklike transmissie-stelseloperateur
# Twaalf mense sterf in ‘n busongeluk in die Vrystaat
# En krieket: Albie Morkel is Joburg Super Kings se nuwe hoofafrigter
# President Cyril Ramaphosa het die fase een-verslag deur Eskom se Herstruktureringstaakspan onderskryf. Dit sit aanbevelings uiteen vir die vestiging van ‘n onafhanklike transmissiestelseloperateur. Die Wet op Elektrisiteitsregulering maak voorsiening vir die vestiging van die operateur teen laastens einde 2029. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die verslag wys hoe die regering veranderings in die elektrisiteitsektor kan verseker te midde van voortgesette ontwikkeling van die sektor:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê wetstoepassingsagentskappe het tussen Januarie 2024 en verlede maand 162 georganiseerde misdaadsindikate geïdentifiseer. Altesaam 371 vermeende sindikaatleiers is vervolg, maar slegs 62 is skuldig bevind. Cachalia het in ‘n parlementêre antwoord onthul dat 12 polisiebeamptes in dieselfde tydperk ondersoek is omdat hulle na bewering met misdaadsindikate saamgewerk het. Hy sê agt beamptes is geskors en twee afgedank. Cachalia sê die polisie het pogings verskerp om georganiseerde misdaadgroepe te ontwrig. Dit sluit geheime operasies in wat misdaadnetwerke teiken.
# Twaalf mense, insluitend vyf kinders, is dood en 60 beseer in ʼn busongeluk op die N1 tussen Trompsburg en Edenburg in die Vrystaat. Die bestuurder van die bus en sleepwa, wat vermoedelik na Zimbabwe op pad was, het skynbaar beheer verloor en dit het omgeslaan. Die Padverkeers-bestuurskorporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê voertuigbestuurders, veral van langafstand- openbare vervoer, moet versigtig wees, padveiligheids-regulasies nakom en seker maak voertuie is padwaardig:
Nuus uit die buiteland:
# Die wêreldbekende bergklimmer Nirmal Purja is een van tien klimmers wat vermis word na ‘n sneeustorting op een van die wêreld se hoogste bergspitse, Broad Peak in Pakistan. Die Nepalees het in 2019 bekendheid verwerf toe hy in net meer as ses maande die wêreld se 14 spitse van hoër as agt-duisend meter geklim het. Die vermistes is vyf Nepalese en ‘n Amerikaner, Pakistani, Omani en Chinees. Die president van die Alpynse Klub van Pakistan, Irfan Arshad Khan, sê vier liggame is gevind, maar nog nie identifiseer nie.
# Krieket: Die veelsydige voormalige Protea-speler, Albie Morkel, is aangestel as Joburg Super Kings se nuwe hoofafrigter vir die komende SA20-seisoen nadat Stephen Fleming vroeër die maand bedank het. Die 45-jarige Morkel was vier jaar lank die hulpafrigter. Hy sê hy sien daarna uit om voort te bou op die sterk grondslag wat hulle reeds geskep het, en die span te help om sy volle potensiaal te bereik. Die vyfde SA20 begin op 17 Januarie en JSK skop sy veldtog die volgende dag af teen Paarl Royals.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-38-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-77-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….