Nuus 08:00
BULLETIN 31 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê hulle is besig om ‘n waarnemende IDAC-hoof aan te stel
# Die Politieke Moorde-taakspan vind die liggaam van ‘n vermiste EFF-lid
# En Masala Makutu wen Suid-Afrika se eerste atletiekmedalje by die Statebondspele
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die aanstelling van ‘n waarnemende hoof vir die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie is aan die gang. Dit volg na die bedanking van die voormalige hoof Andrea Johnson, wat Woensdag haar marathon-getuienis van ses dae voor die Madlanga-kommissie afgesluit het. Kubayi sê sy het besluit om niemand uit IDAC se huidige leierskap te bevorder nie, en beklemtoon sy wil nie die probleme wat die entiteit in die gesig staar, verder laat voortduur nie:
# Die Parlement se Staande Komitee oor Finansies sê die aanstelling van die adjunkminister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Seiso Mohai, as raadsvoorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie, is ‘n belangrike stap om bestendigheid in die regering te versterk. Hy vervang die adjunkminister van Finansies, David Masondo, wat verlede week die sesde persoon geword het om uit die raad te bedank. Die komitee se voorsitter, doktor Joe Maswanganyi, sê hy is vol vertroue dat Mohai saam met die raad bestendige en doeltreffende leierskap sal bied en verseker die korporasie bly gefokus op die vervulling van sy mandaat.
# Die Gautengse Taakspan oor Politieke Moorde het die EFF-lid, Aaron Makola wat in Bronkhorstspruit as vermis aangemeld is, gevind. Die 51-jarige Makola het op 10 Julie vermis geraak en sy voertuig is later verlate gevind. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die taakspan het die ondersoek oorgeneem nadat hulle met Makola se familie vergader en nuwe inligting oor sy verdwyning bekom het. Sy sê ‘n uitgebreide ondersoek het lede van die taakspan na Delmas, Mpumalanga, gelei waar sy liggaam gevind is:
# President Donald Trump van Amerika sê die Vredesraad wat uit 20 lande bestaan, het ʼn ooreenkoms bereik dat Hamas en ander gewapende groepe in Gaza heeltemal ontwapen moet word. Hy sê in ʼn inskrywing op Truth Social wanneer die ontwapening afgehandel is, sal Israelse magte onttrek en die Internasionale Stabiliseringsmag sal saam met ʼn nuwe Palestyne polisiemag werk om Gaza veilig te maak vir inwoners en bure. Trump sê die ooreenkoms sal in versigtig gestruktureerde fases uitgevoer word.
# Statebondspele: Die Paralimpiese atleet, Masala Makutu, het Suid-Afrika se eerste baan-en-veldmedalje by die Spele in Glasgow opgeraap toe hy silwer gewen het in die mans T12 100-meterfinaal. Die 20-jarige atleet het ʼn persoonlike beste tyd van 11,04 sekondes behaal. Sinesipho Dambile se blitsige 19,82-sekonde-prestasie is die tweede vinnigste tyd ooit by die Spele, en hy bespreek daarmee sy plek in die mans se 200-meterfinaal. Die vrouenetbalspan se medalje-hoop is verpletter nadat hulle met 58-54 teen Engeland verloor het. Suid-Afrika spog tans met 23 medaljes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-310-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-74-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….