Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die skorsing van drie senior amptenare van die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie aangekondig. Die koerant skryf dit volg na plofbare getuienis voor die Madlanga-kommissie. Daar is beweer dat IDAC-amptenare hul ondersoekmagte misbruik het.
# Mail & Guardan:
Skryf die parlementêre leier van die African Transformation Movement, Vuyo Zungula, sê die geld wat in ‘n rusbank op president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gevind is, kon geld gewees het wat vir die ANC bedoel was eerder as vir die president.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die moord op ‘n 68-jarige pa en sy 40-jarige seun wat in hul huis in Virginia in die Vrystaat oorval is. Hoewel die webblad bespiegel oor hul identiteit, het die polisie nog nie hul name bekendgemaak nie.
En tweedens skryf die webblad die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die Openbare Beskermer se verslag oor dienslewering in Kaapstad gekritiseer. Hy sê die meeste van die kwessies in die verslag is reeds aangespreek en sy is daaroor ingelig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse Politieke Moorde-taakspan het die liggaam van die vermiste EFF-lid, die 51-jarige Aaron Makola, in ‘n bos in Delmas ontdek. Hy is na bewering doodgeskiet voordat sy liggaam daar gelaat is. Hy is sedert 10 Julie vermis.
# Sowetan:
Berig ook oor die ingryping by IDAC. Die koerant skryf al 122 werknemers sal leefstyloudits ondergaan en alle strafregtelike sake wat die direktoraat ondersoek het, sal onafhanklik hersien word.
# En The Citizen:
Skryf volgens weerkundiges kan die El Niño-weerverskynsel wat teen die einde van die jaar op pad is, ernstige gevolge inhou. Groter haelstorms, droogte en versengende hitte is ons voorland.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die skorsing van die drie senior amptenare by IDAC. Die koerant skryf minister Kubayi het die versekering gegee dat die direktoraat reggeruk sal word.
En tweedens skryf die koerant oor die Kabinet se besluit om sekere kodes rybewyse se geldigheid tot tien jaar te verleng.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die kanse is goed dat die Chinese bandevervaardiger, die Sailun-groep, ‘n aanleg in Nelson Mandelabaai gaan open. Dit gaan ‘n ekonomiese inspuiting van twee-miljard-rand vir die stad beteken.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor rybewyse se geldigheidsperiode wat verleng gaan word.
En berig oor die Suid-Afrikaanse swem-ster, Chad le Clos, wat nou die mees bekroonde atleet in die bestaan van die Statebondspele is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n sielkundige, dokter Shaun Whittaker, sê Namibië se seuns is nie inherent meer tot misdaad geneig as meisies nie. Hulle word egter gevorm deur armoede, geweld, trauma en skadelike maatskaplike verwagtinge.
Dan skryf die koerant die adjunkbalju is gelas om op die sakeman en eggenoot van die speaker van die Nasionale Vergadering, Onesmus Amadhila, se bates beslag te lê om 471-duisend-rand aan regskoste te verhaal.
En laastens is daar nuus oor die fees; “Afrikaans: Hartklop van boeresport tot boeke” wat môre vir die tweede jaar in Ongwediva aangebied word.