Nuus 15:00
BULLETIN 30 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet stel Seiso Mohai as die nuwe voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie aan
# FlySafair ervaar ‘n daling in aanvraag te midde van druk op brandstofpryse
# En rugby: Die Junior Bok-ster Giliomee begin vir die Haaie in hulle Curriebekerwedstryd teen die Stormers
# Die kabinet het ‘n nuwe raad vir die Openbare Beleggingskorporasie goedgekeur, en die adjunkminister in die Presidensie vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Seiso Mohai, as voorsitter aangestel. Hy volg die adjunkminister van Finansies, David Masondo, in die rol op. Die aanstellings volg op die bedanking van verskeie raadslede te midde van bestuursuitdagings in die staatsbeheerde batebestuurder. Minister Khumbudzo Ntshavheni sê die nuwe raad sal staatsbestuur versterk, bestendigheid herstel en vertroue herbou:
Suid-Afrika is gereed om die 46ste gewone beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban aan te bied van 16 tot 17 Augustus. Ntshavheni sê die kabinet is tevrede met die land se voorbereidings vir die streekbyeenkoms. Ntshavheni sê die SAOG-Nywerheidsweek wat hierdie week in Durban gehou word, het ten doel om nywerheidsontwikkeling in die streek te versnel en ekonomiese bande tussen lidlande te versterk:
# FlySafair sê die vraag na sy dienste het met 14-persent afgeneem namate die skerp styging in stralerbrandstofpryse druk op Suid-Afrika se lugvaartsektor plaas. Die lugredery sê die afname volg op die instelling van ‘n tydelike brandstofheffing nadat die prys van stralerbrandstof skerp gestyg het weens ontwrigtings in wêreldwye voorraadkettings verbind aan die oorlog in die Midde-Ooste. FlySafair sê hy bly daartoe verbind om bekostigbare lugreise aan te bied en sal die brandstofheffing weekliks hersien en dit verlaag of skrap namate brandstofpryse bestendig raak.
Nuus uit die buiteland:
# Die man wat die wêreldbekende skrywer Salman Rushdie in 2022 in Amerika gesteek en gedeeltelik blind gelaat het, Hadi Matar, is in ‘n federale hof in New York skuldig bevind aan terreur-aanklagte. Rushdie se roman, The Satanic Verses, is in groot dele van die Islamitiese wêreld veroordeel as godslasterlik. Die 28-jarige Matar dien reeds ‘n vonnis van 25-jaar uit vir poging tot moord. Hy kan met sy volgende hofverskyning in November lewenslange tronkstraf opgelê word. Aanklagte sluit in betrokkenheid by terrorisme wat nasionale grense oorskry.
# Rugby: Luan Giliomee begin Saterdag op heelagter vir die Haaie-vyftiental in hulle Curriebeker-kragmeting met die Stormers-23 in Kaapstad. Hy is een van die Durbanse span se vier Junior Springbokke wat hulle Onder-20-Wêreldbekerkampioenskapstitel suksesvol verdedig het. Die ander drie, Khuthi Rasivhaga, Liam van Wyk en Rambo Kubheka, is op die bank vir die besoekers wat deur Thomas Dyer gelei word. Die Haaie is vyfde op die punteleer en die Stormers sesde na albei gemengde uitslae gehad het in die eerste twee rondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-553-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-77-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….