Nuus 14:00
BULLETIN 30 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet stel Suid-Afrikaners gerus te midde van bewerings oor Amerikaanse visums
# Suid-Afrika ondervind sterk groei in internasionale toerisme
# En sokker: Diomandé word die duurste Afrika-speler ooit
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet neem kennis van berigte dat sommige wit Suid-Afrikaners wat na Amerika verhuis het op grond van ‘n sogenaamde wit volksmoord, se visums na bewering geweier is. Die kabinet herbevestig alle Suid-Afrikaners, ongeag hul politieke oortuigings, is welkom in die land en word deur die Grondwet beskerm. Sy erken wel dat Suid-Afrika steeds worstel met maatskaplike en ekonomiese uitdagings wat almal raak:
# COPE vra alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners om hierdie naweek vir die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November te registreer. Die party sê Suid-Afrikaners verdien munisipaliteite wat gehaltediens lewer, ekonomiese groei bevorder en aanspreeklik bly teenoor gemeenskappe. Die party glo plaaslike regerings moet geleenthede skep en mense se lewens verbeter. COPE moedig burgers aan om Saterdag en Sondag by hul naaste stempunt of aanlyn te registreer om te verseker hul stem word gehoor.
# Suid-Afrika se toerisme-sektor het die eerste ses maande van die jaar sterk groei ondervind en meer as 5,5-miljoen internasionale besoekers verwelkom. Dis 12,3-persent meer as dieselfde tydperk verlede jaar. Verlede maand se aankomste was ook byna tien-persent meer, met sterk groei in Afrika-markte. Aldrin Sampear van die Departement van Toerisme sê Amerika was die tweede agtereenvolgende maand Suid-Afrika se voorste oorsese bron-mark:
# Dertien mense, insluitend kinders, is in die vroeë oggendure in Russiese lugaanvalle in Oekraïne dood. Die aanval volg ure nadat die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, die land gewaarsku het oor Moskou se reuse-aanval. Twee meisies van vyf en 12 jaar is onder die ses mense wat in Kryvyi Rih dood is. Nog ses mense is in aangrensende streke dood en een in die hoofstad, Kiëf. Zelensky sê die aanvalle het huise, ondernemings en infrastruktuur beskadig of vernietig, terwyl meer as 260 hommeltuie onderskep is.
# Sokker: Die vleuel Yan Diomandé van die Ivoorkus is gereed om van RB Leipzig na Real Madrid te verskuif in ‘n transaksie wat volgens berigte sowat 2,2-miljard-rand beloop, wat hom die duurste Afrika-speler ooit maak. Die 19-jarige se oordragfooi oortref die vorige Afrika-rekord wat deur sy landgenoot Nicolas Pépé gehou is. Die skuif volg na ‘n uitstekende seisoen in Duitsland en ‘n indrukwekkende Wêreldbekerveldtog. Real Madrid sal na verwagting die kontrak hierdie week finaliseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-536-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-77-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….