Nuus 12:00
BULLETIN 30 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê die vrystelling van billike aandeel-oordragte aan munisipaliteite moenie aanspreeklikheid opskort nie
# Die Oos-Kaapse regering verskerp ingryping by seuns se gewelddadige faksiegevegte
# En Statebondspele: Die swemmer Pieter Coetze skitter vir Suid-Afrika met drie goue medaljes in Glasgow
# Die Parlement se gesamentlike oorsigkomitees verwelkom die Nasionale Tesourie se besluit om môre die oorblywende 7,1-miljard-rand in billike aandeel-oordragte aan 49 munisipaliteite vry te stel. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die vrystelling is voorwaardelik en moet basiese dienslewering beskerm, terwyl vereis word dat die betrokke munisipaliteite ernstige swakpunte moet regstel wat geïdentifiseer is. Die voorsitter van die komitee op Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, sê die vrystelling moet egter nie verantwoordelike amptenare en ampsdraers toelaat om aanspreeklikheid aan bestuursmislukkings te ontduik nie.
Die burgerlike organisasie, Soil of Africa, sê intussen die vrystelling van die res van die fondse is nie ‘n verslapping van finansiële aanspreeklikheid nie. Die Nasionale Tesourie het vroeër die maand 13,5-miljard-rand van 69 munisipaliteite teruggehou. Soil of Africa se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê die fondse se vrystelling is ʼn voorwaardelike ingryping om dienslewering te beskerm:
# Die Oos-Kaapse regering bly daartoe verbind om die lewens van jongmense te beskerm, vreedsame gemeenskappe te bevorder en seker te maak elke kind kan in ʼn veilige omgewing leer en groei. Hy het ʼn weeklange Morele Herlewingsprogram in Mbhashe bekendgestel as deel van verskerpte pogings om seuns se gewelddadige faksiegevegte te bekamp en maatskaplike samehang te bevorder. Woordvoerder Khuselwa Rantjie, sê dis gemik op leerders van graad 7 en ouer:
# Statebondspele: Die swemmer Pieter Coetze is Suid-Afrika se grootste uitblinker op die Statebondspele in Glasgow. Hy het sy derde goue medalje verower toe hy die mans-100-meter rugslag gewen het in die tweede vinnigste tyd ooit. Die 22-jarige se tyd van 51,77-sekondes is slegs 0,17-sekondes stadiger as die wêreldrekord wat die Italianer Thomas Ceccon vier jaar gelede opgestel het. Coetze is ook die eerste manlike swemmer om drie goue medaljes in Skotland te wen nadat die Australiërs Lani Pallister en Jenna Forrester dieselfde prestasie in die vroue-afdelings behaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-221-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-65-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Verslag deur die Universiteit Stellenbosch toon baie gestremdes in Afrika sukkel steeds om toegang te kry tot ondersteunende tegnologie soos rolstoele, gehoorapparate en skermlesers. Dit word toegeskryf aan hoë koste, beperkte dienste en swak ondersteuningstelsels, veral op die platteland. Woordvoerder Luigia Nicholas sê groter belegging is nodig om gestremdes te help om toegang tot onderwys en indiensneming te kry, en meer onafhanklik te leef:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….