Nuus 11:00
BULLETIN 30 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA sê die vrystelling van munisipale fondse sal noodsaaklike dienste beskerm
# Donald Trump kritiseer die Amerikaanse Federale Reserwe wat rentekoerse onveranderd laat
# En rugby: Die skedule vir 2027 se Sewesreeks en die Wêreldkampioenskap word bevestig
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging sê die Nasionale Tesourie se besluit om die oorblywende 7,1-miljard-rand se Julie-befondsing aan munisipaliteite vry te stel, sal help om noodsaaklike munisipale dienste te beskerm en die behoefte aan verantwoordbaarheid versterk. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hoewel die terughouding van fondse finansiële nakoming kan aanmoedig, moet sulke maatreëls versigtig gebalanseer word teen grondwetlike verpligtinge om ononderbroke dienslewering te verseker:
# Suid-Afrika het die afgelope dekade vordering gemaak wat swart ekonomiese bemagtiging betref, maar hervorming is stadiger sedert die Covid-19-pandemie. Dis volgens die Kommissie vir Ekonomiese Bemagtiging se jongste verslag wat gebruik maak van bemagtigingstelkaarte en nakomingsverslae van instellings in die openbare en privaat sektor. Die eiendomsektor doen die swakste met nie-nakoming van 67-persent, gevolg deur finansiële dienste en landbou. Hierdie sektore haal nie minimum eienaarskap vir swartmense en swart vroue nie. Sektore soos die boubedryf en vervoer vaar die beste.
# Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê padverkeerspanne monitor die weerstoestande noukeurig terwyl sneeu oor dele van die Drakensberge val en ligte reën in ander gebiede uitsak. Spanne monitor sleutelroetes, met padskrapers wat op bystand is om sneeu te verwyder. Ndabezinhle Sibiya van die departement sê meer as 170 kamers is by Montclair Lodge voorberei om gesinne te huisves wat moontlik deur oorstromings geraak kan word:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump het die Amerikaanse Federale Reserwe gekritiseer wat rentekoerse onveranderd gelaat het, en sê laer koerse sal die ekonomie verder versterk. Beleidmakers het met 9 teen 3 gestem dat rentekoerse tussen 3,5- en 3,75-persent bly. Dit kom te midde van toenemende onsekerheid oor die uitwerking wat die voortslepende konflik in die Midde-Ooste op wêreldwye oliepryse en verbruikerspryse sal hê. Trump sê hy ondersteun steeds die Federale Reserwe se voorsitter, Kevin Warsh:
# Rugby: Wêreldrugby het die skedule vir 2027 se Sewesreeks en Wêreldkampioenskap bevestig na ‘n mylpaal-jaar waarin die Blitsbokke albei kompetisies gewen het. Die seisoen sal weereens in November in Dubai afskop voordat Kaapstad, Singapoer, Perth, Vancouver en New York aan die beurt kom, met die Wêreldkampioenskap daarna in Hongkong, Valladolid en Bordeaux. Suid-Afrika sal sy Kaapstadse kroon op 5 en 6 Desember verdedig. Wêreldrugby sê die huidige seisoen het meer as 530-duisend ondersteuners gelok, 21-persent meer as verlede jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-988-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-45-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….